US kap terug oor ‘ongerymdhede’ by konvokasievergadering

Die konvokasievergadering op 1 Junie 2023 (Foto: Stellenbosch Staan Op/Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) het in reaksie op beweerde ongerymdhede tydens ʼn buitengewone konvokasievergadering gesê dat onafhanklike ouditeurs by die vergadering, tydens die tel van stemme ná die vergadering én tydens die verifiëring van aanlyn stemme teenwoordig was.

Volgens Martin Viljoen, woordvoerder van die US, is die vergadering en stemproses boonop hanteer in ooreenstemming met die prosedures waarop die president en visepresident van die konvokasie, asook diegene wat die mosies ingedien het, vooraf ooreengekom het.

“Daar was ook twee waarnemers, wat deur die klaers in die twee mosies genomineer is, by die tel van die in-persoonstemme na afloop van die vergadering teenwoordig,” het Viljoen gesê.

“Die kennisgewing [oor die uitslag] is onder oudregter Bennie Griesel, wat die vergadering as onbestrede ad hoc-voorsitter gelei het, se naam uitgestuur. In hierdie kennisgewing is daar ook aangedui hoe besware geopper kan word. Die universiteit verwag die ouditeurs se finale verslag binnekort.”

Die US sê voorts dat die kontakadres vir tegniese ondersteuning vir alle stemgeregtigdes tydens die in-persoon- én aanlyn vergadering, reeds voor die begin van die verrigtinge op ’n grafika vertoon is.

“Dit is ook op sosialemediaplatforms versprei. Stemgeregtigdes is tot en met die sluiting van die stembus op Vrydag 2 Junie om 19:00 deur die universiteit bygestaan.”

Maroela Media het vroeër berig daar heers groot ongelukkigheid oor probleme wat glo met die registrasieproses voor die vergadering ondervind is, en na bewering ʼn negatiewe uitwerking op die uiteindelike uitkoms van die vergadering gehad het. Die klagtes sluit in dat verskeie tegniese probleme konvokasielede gepootjie het om te registreer en dus aan die vergadering en stemproses te kon deelneem, en dat die uitnodiging na die vergadering talle lede boonop nie bereik het nie.

ʼn Formele beswaar is Maandag in dié verband deur Dirk van Niekerk, ʼn prokureur van Stellenbosch, ingedien. In dié beswaar versoek hy ʼn onafhanklike ondersoek na die beweerde ongerymdhede, asook ʼn verslag met bevindings.

Die buitengewone vergadering is belê om mosies van wantroue, onder andere teen adv. Jan Heunis, aan te hoor, wat intussen as president van die konvokasie en uit die US-raad bedank het. Die hele uitvoerende komitee, behalwe dr. Rudi Buys, visepresident van die konvokasie, het die trekpas gekry nadat die mosies van wantroue met 274 papierstemme en 1 285 aanlyn stemme geslaag het.

Viljoen het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat alle tegniese probleme wat ondervind is, insluitend ʼn foutiewe e-posadres aan Afrikaanse lede en ʼn foutiewe skakel, reeds opgeklaar was voordat die vergadering op 1 Junie plaasgevind het en dat alle geregistreerde lede tot 2 Junie met tegniese probleme bygestaan is.

Hy sê ook dat die universiteit deurlopend oor die proses en vergadering gekommunikeer het.

“Deurlopend in hierdie periode het die alumni-kantoor al die reëlings en kommunikasie in Afrikaans en Engels op hul verskeie sosialemediaplatforms gedeel. Die media het ook by verskeie geleenthede oor die vergadering berig en daar was advertensies in Die Burger, die Cape Argus en die Eikestadnuus.

Die US bestuur ’n reusedatabasis van nagenoeg 230 000 mense en werk deurlopend daaraan om alumni se kontakbesonderhede aan te vul in ooreenstemming met die relevante Popia-wetgewing. Daar berus egter ook ’n verantwoordelikheid op die individu om besonderhede op te dateer – soos die geval sou wees met enige ander organisasie of besigheid. Ongelukkig is dit so dat in so ’n reuse-databasis daar uiteraard verouderde inligting gaan wees wat kommunikasie kan bemoeilik. Daarom doen die US ’n beroep op sy alumni om seker te maak die universiteit beskik oor die korrekte kontakbesonderhede.”

Viljoen sê dit is verder belangrik om kennis te neem dat nie alle alumni lede van die konvokasie is nie.

“Die universiteit wys ook daarop dat van die probleme wat ervaar is om te registreer, moontlik daaruit gespruit het dat persone unieke skakels met ander gedeel het, ten spyte van herhaalde versoeke om dit nie te doen nie, of dat daar ontbrekende inligting was, of dat hulle nie geregistreer was vir die vergadering nie. Registrasie was ’n vereiste om te kon stem.

“Enige lid van die konvokasie wat nie betyds vir aanlyn stemming of bywoning van die aanlyn vergadering kon registreer nie, kon nog die Donderdagaand [1 Junie] in persoon by die vergadering opdaag en daar stem (met die vertoon van ’n geldige ID- en studentenommer). Laat registrasies vir bywoning in persoon en stemming is tot net voor die begin van die vergadering by die vergaderlokaal hanteer.”

Viljoen sê partye wat beswaar wou aanteken, het tot 6 Junie geleentheid gehad om dit te doen.

“Besware sal ondersoek en deur die ad hoc-voorsitter oorweeg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Danie ·

Die wantroue en verval van A tot Z in SA is aan die orde van die dag.Is daar nog enige iets wat glad verloop?

houopkruip ·

………. wim de villiers, jy en jou maatjies, doen almal net ‘n guns …….. kry die boodskap, gee pad !

JohanR ·

Voor 1994 het ons maar net van US gehoor as die Maties 1stes wen, en die koor sing. En toe kom die ANC, en woke!

Goldy ·

Hoe toevallig dat die foutiewe epos die afrikaanse een was. Al was dit dalk herstel is die skade reeds gedoen, en swendelaars weet hoe om sulke streke te gebruik om stembalans te swaai.

Papsak ·

Wim jy en jou maaitjies moet julle mandtjies vat en waai piekniek is verby baai

annie ·

Was Martin Viljoen nie voorheen by Kovsies nie… en toe… gaan hy na US en nou is hy die rektor tot hulp. Tja, hoekom ‘n mediese kundige hom skielik met administratiewe sake begin bemoei het, is nogal interessant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.