Vakbond gaan hof toe oor heropening van skole

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die Educators’ Union of South Africa (Eusa) wil ’n dringende interdik by die hooggeregshof bekom om te verhoed dat skole heropen te midde van die Covid-19-pandemie.

Die vakbond het in ’n verklaring gesê hy beplan om die hof Dinsdag te nader om die departement van basiese onderwys se besluit om leerders terug te stuur skool toe gedurende die pandemie, te hersien, ter syde te stel of te wysig.

Volgens Eusa is hy die eerste organisasie om tot dusver ’n hofaansoek van dié aard te bring.

Die vakbond het vroeër vandeesweek gesê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, is onverantwoordelik om leerders in dié tyd terug te stuur skool toe.

Angie Motshekga. Foto: Jacques Naude/ANA

Maroela Media het vroeër berig gr. 7- en gr. 12-leerders landwyd is veronderstel om Maandag weer terug op die skoolbanke te wees. Die Noord-Kaap het egter reeds aangedui dat leerders in dié provinsie eers ʼn week later gaan aanmeld.

Altesaam agt onderwysvakbonde en organisasies wat skoolbeheerliggame verteenwoordig, het intussen gesê skole is allermins gereed om te heropen.

Die organisasies het Donderdag vergader om skole se gereedheid om Maandag te heropen, te bespreek. Hulle het eenparig tot die slotsom gekom dat skole nié te midde van die Covid-19-pandemie gereed is om te heropen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

marius ·

So , die 27 000 onderwysers wat hulle verteenwoordig gaan nie terugkeer skole toe nie ? Gaan hulle dissipliner vervolg word en salarisse verloor ?

Willem ·

Daai 27000 van sadtu het nog nooit gewerk nie geen werk geen betaling

Mulva ·

Mnr Willem ek nooi u hartlik uit na ons skool waar meer as 95% opvoeders aan Sadou verbonde is, dan kom kyk u self hoe ons werk en al jare gewerk het. Ons is tans alreeds 2 weke by die skool. Vergewis asseblief uself van feite voordat u so gevaarlike onverantwoordelike stelling maak. Terloops, ons sit met klasse van tot 55 leerders per klas. Miskien kan u ons kom “leer” hoe om ons werk te doen.

Anel ·

Ek kan regtig nie verstaan wat die probleem is nie. As dit winter us en die kinders het verkoue of griep gaan party nog steeds skooltoe en dan kla niemand nie. Van die onderwysers het geen probleem om die vigs besmette of TB besmette kinders te druk en soen nie, siektes wat baie aansteeklik is. Geen kinders is nog dood suiwer aan hierdie virus nie, maar ouers wil nie die kinders skool toe stuur nie. Ek verstaan van onderwysers wat onderliggende siektes het en kinders ook. Maar my, vir hoe lank wil ouers hul kinders in watte toe draai? Kinders miet sosialiseer, hulle het hul maatjies nodig en hul onderwysers. Dit is baie ongesond om heeldag net in ouers se teenwoordigheid te wees. Die kunders moet ook imuniteit opbou deur met ander kinders te meng. Hierdie afsondering en masker draery verswak almal se imuniteit en gaan veroorsaak dat mense gaan siek word van baie ander goggas as huerdie virus. Die regering het geslaag met hul massa bangpraat en histeria. En hoeveel is die waarheid?

Erik ·

Ek stem dat skole moet oopmaak, maar is ook moeg vir mense wat onderwysers heeltyd kritiseer. Nie alle onderwysers het die afgelope tyd niks gesit en doen nie. Wie van julle sou bereid wees om aanlyn klas te gee, julle eie data te gebruik, selfs julle eie geld te gebruik en data vir behoeftige kinders te koop, julle eie ink en papier gebruik om honderde assesserings tuis te druk en te merk? Dis wat baie onderwysers die afgelope tyd gedoen het. Dit terwyl hulle tussendeur moes wasgoed was, skottelgoed was, kosmaak en hulle eie kinders tuis onderrig. Intussen sit die haarkappers en drink tee met hul hare letterlik in hul hande en kritiseer die onderwysers. Daar is altyd twee kante aan ‘n saak.

Marlz Johnston ·

Onderwysers is nie alleen nie, baie ouers moes ook maar internet aanskaf, drukkers, papier en ekstra skryfbehoeftes koop om die blaaie van skoolwerk van die af te kon doen. Die uitgawes bo op die ville skoolgeld en nasorg wat elke maand betaal moet word al is jou kind nie tans in nasorg nie, nie eers te praat van die sport en kultuur asook etes wat ekstra is nie. Dit bo op die ouers wat voldag moet werk sodat hulle n salaris kan verdien om die skool te kan betaal, huiswerk moet doen wat insluit skoon maak en wasgoed, skottgoed.. Daar is twee kante aan die wors en ons almal het dieselfdeuitdagings. So dit is nie net onderwysers wat opoffer nie, ouers word maar net so gekritiseer.

Sarel ·

Die Vakbonde is net so onkundig. Kan hulle vir eens hulle neus uitt sake hou. Due Kundiges is ouers, onderwysers en Beheerrade.

Sakkie ·

Dis reg mnr vakbond hou die skole toe mors die kinders toekoms op en beryk jou doel om die land ongeletterd te maak ….stupid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.