Vakbonde woedend oor vet verhogings vir SAUK-base

(Foto: Unsplash)

Die vakbonde Bemawu en CWU dreig met ʼn staking by die SAUK nadat ruim salarisverhogings volgens die openbare uitsaaier se jaarverslag aan sekere senior personeel toegeken is.

Die vakbonde sê in ʼn gesamentlike verklaring die SAUK het werkers ingelig dat salarisse drie jaar lank bevries word en dat hulle geen salarisverhoging kry totdat die uitsaaier se boeke weer klop nie. Dit terwyl sommige grootbase ʼn salarisverhoging van tot 20% gekry het.

“Die SAUK het werkers aanvanklik ʼn 0%-verhoging aangebied en terwyl onderhandelings gevorder het, het partye ʼn dooiepunt bereik op 3% wat nie terugwerkend is nie en effektief ʼn 1,5%-verhoging vir die jaar is. Die SAUK het ook ʼn eenmalige bedrag pleks van ʼn persentasieverhoging aangebied.”

Onder senior bestuur lyk die situasie veel beter. Die groephoof van menslike hulpbronne by die SAUK het ʼn salarisverhoging van 20,31% gekry. Dit word gevolg deur ʼn salarisverhoging van 19,26% vir die groephoof van kommersiële ondernemings. Die ouditgroephoof ontvang ʼn verhoging van 14,19% en die groephoof van regsdienste kry ʼn verhoging van 11,37%.

“Vakbonde staan op die punt om ʼn sertifikaat te bekom wat SAUK-werkers in staat sal stel om met ʼn beskermde staking voort te gaan. Werkers se eis is ʼn terugwerkende 7%-verhoging en ʼn eenmalige bedrag van R10 000,” sê Bemawu en CWU.

Die SAUK se geldsake het effe verbeter, maar is steeds beroerd.

Die openbare uitsaaier se 2021-’22-jaarverslag is vroeër aan die parlement voorgelê.

Hiervolgens het hy R2,8 miljoen in onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes aangegaan en sy netto verlies staan tans op R201 miljoen. Dit is volgens die SAUK wel ʼn “verbetering” van R329 miljoen (62%) in sy netto verlies.

Sy inkomste het met R90 miljoen (2%) op ʼn jaar-tot-jaar-grondslag gestyg danksy ʼn marginale verhoging in borgskapinkomste. Die uitsaai van die Olimpiese Spele verteenwoordig R122 miljoen (58%) van die netto verlies. Gugu Ntuli, woordvoerder van die SAUK, sê as dit nie was vir die belegging in die Olimpiese Spele nie – wat ingevolge die SAUK se mandaat uitgesaai moet word – sou sake veel beter daaruit gesien het.

Die SAUK se inkomste is ook steeds nie op die vlak waarop dit in 2020 gestaan het nie, hoofsaaklik weens ʼn afname in sy markaandeel. Inkomste uit advertensies was in die jongste boekjaar 23% minder as waarvoor begroot is.

Die meeste mense – ʼn noemenswaardige 81,7% – betaal  steeds nie vir ʼn TV-lisensie nie. Invordering het nietemin met R26,6 miljoen toegeneem, wat die inkomste uit TV-lisensies op R815,1 miljoen te staan bring, sê Ntuli.

“Die vermoë van die korporasie om as lopende saak voortgesit te word bly ʼn bron van kommer en word deurlopend dopgehou. Die onderprestasie in die genereer van inkomste plaas oor die kort termyn druk op likiditeit, maar die SAUK is besig met verskeie inisiatiewe om die daaglikse bedryfskapitaal te bestuur en risiko’s volhoubaar te verminder.”

Dianne Kohler Barnard, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, het vroeër gesê die jaarverslag van die SAUK (sowel as dié van die Poskantoor wat ewe beroerd is) benadruk hoe wanbestuur en korrupsie Suid-Afrikaanse belastingbetalers ʼn fortuin kos.

“Dit is werklik skokkend om die ongelooflike bedrae geld te sien wat die publiek oor die jare aan staatsbeheerde instellings betaal wat jaar ná jaar misluk,” sê Kohler Barnard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jakkie ·

Ek kan ongelukkig nie kommentaar lewer oor SABC nie het laas in 1998 my tv-lisensie betaal………

Samuel ·

Waarvoor moet mens TV lisensie betaal? Daar is werklik niks waarna ek kyk nie.

Aggie ·

Ek betaal maar, want ek wil nie in ‘n Anc tronk gaan sit nie ! Gelukkig geniet ek darem pensioenaris afslag.

domheks ·

Kan nie glo die mense dink hulle verdien ‘n verhoging nie! Pateties! STAAK soos die res – dan kry julle wat julle vra. Regering sal maar weer ‘n reddingsboei gee…..

Hennie ·

Ek kan nie minder omgee nie. SAUK is ‘n ander naam vir ‘n riool plaas!

marius ·

Nou staak maar . Niemand gaan dit agterkom nie , want diegene wat nog TV ‘s besit kan in elk geval nie kyk nie . Die tyd van TV is verby …

Koos 100 ·

Die vermetelheid! Dis weereens ‘n indikasie dat die ANC elite ‘n absolute veer voel vir die man op straat. Ministers kry verhogings en sommer ‘n spul ander “perks”, net soos die narre, en dan pleit hulle armoede as daar oor salarise grpraat moet word. Ek stem saam met die vakbond.

Papsak ·

Hulle het nie verhogings nodig nie want alles word oor en oor gewys op tv dit is walglik al doen net julle werk hierdie land het nie geld vir verhogings nie

Mariana ·

Dit is eintlik skokkend as mens mooi daaroor dink. Die base kry groot geld en die eintlike werkers moet sit met die klein bietjies. Onregverdig maar dit is mos hoe die ANC dit doen. Net sommiges word bevoordeel. Sal my meter ook ver in die rooi druk.

Joggie ·

Maak die sirkus asseblief toe, dit is nie meer snaaks nie!

Delia ·

Ek verstaan heel dikwels dat mense wil staak. Die fat cats word net vetter en vir die man hier onder word daar net gesê…eish daars nie geld vir verhogings.

Casper ·

Halveer die groot manne se salarisse dan is daar mos geld vir verhogings vir almal.

Onnie ·

En die onderwysers het nog nie ‘n sent verhoging gekry nie, die Dept v Onderwys het nog nie eers hul vorige loononderhandelings (voor covid) aan ons nagekom nie. Volgens die Dept het hulle nie geld nie???

Hasie ·

Ek besit die afgelope 10 jaar nie meer ‘ n TV nie …beste besluit wat Ek nog gedoen het .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.