Valskermswewer van Leeukop af gered

Verskeie reddingsdienste is Dinsdag ingespan om die valskermswerwer van Leeukop af te red. (Foto: Verskaf)

Noodreddingsdienste het Dinsdagmiddag gespook om ʼn valskermswewer van Leeukop in Kaapstad te red nadat hy op die berg neergestort het.

Die man, vermoedelik in sy 40’s, was in ʼn kritieke toestand en tussen twee rotse ingewig toe nooddienste by hom aangekom het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê bystanders en ander reddingsdienste was besig om die man te help toe paramedici om 14:00 op die toneel aangekom het.

“Paramedici het die man ondersoek en bevind dat hy ernstige beserings aan sy kop opgedoen het. Hy was in daardie stadium in ʼn kritieke toestand.”

Die lugvaart-soek-en-reddingskoördineringsentrum (ARCC), onder leiding van sy hoof Gregory Critchley, het ʼn uitgebreide reddingsoperasie van stapel gestuur om die man te bevry en by ʼn hospitaal te kry.

Lede van die Kaapse metro-EMS, die Bergklimklub van Suid-Afrika, ʼn reddingspan van die polisie, Sarza-soek-en-redding, asook lede van Wildernis-soek-en-redding (WSAR) is ingespan om die man by te staan.

Nadat die man bevry is, het paramedici hom behandel en gevorderde lewensondersteunende ingrypings op hom toegepas.

“Hy is gestabiliseer en met ʼn AMS-reddingshelikopter na die Groote Schuur-hospitaal geneem,” sê Meiring.

Volgens Critchley was die reddingspoging om verskeie redes verwikkeld en uitdagend.

Nóg Meiring nóg Critchley weet egter wat tot die ongeluk gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

domheks ·

Al baie gewonder – daar is soveel ongelukke op die berg, wie betaal vir die reddingsoperasies?

Leonard ·

God’s Genade is WONDERBAAR. Was destyds ÓÓK paraglider wat 7 verdieping val oorleef . Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.