Van kruidenierspakker tot mediese dokter

Dr. Xolani Hadebe (Foto: Facebook)

ʼn 27-jarige man wat ná skool kruideniersware moes pak by ’n plaaslike supermark op sy tuisdorp, het Dinsdag sy lewenslange droom verwesenlik toe hy sy graad MBChB (geneeskunde) aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het.

Xolani Hadebe, oorspronklik van Piet Retief in Mpumalanga, is die eerste in sy familie om ’n tersiêre graad te verwerf. “My ouma was siek toe ek klein was en ek moes na haar omsien. Sy het my begin ‘dokter’ noem voor haar dood en dis van daar af dat ek ’n dokter wou word,” verduidelik Hadebe Woensdag aan Maroela Media, ’n dag ná sy gradeplegtigheid in Stellenbosch.

“Dit voel vanoggend nog onwerklik. Ek glo dit nie, dit is ’n droom. Veral as jy al so lank daarvoor werk.”

Hy vertel dat Dinsdag “maar ’n emosionele dag was” met sy ma en vyf sibbe wat ver gereis het om dié dag saam met hom te vier. “Dit was veral emosioneel om my ma so gelukkig en trots te sien.” Dit is juis dié gedagte aan sy ma wat hom dwarsdeur sy studie oor die afgelope sewe jaar gemotiveer het.

Dr. Xolani Hadebe (Foto: Facebook)

Hadebe vertel hy het in ’n klein landelike skool op Piet Retief matriek behaal waarna hy vasbeslote was om medies te gaan studeer. Sy ma werk haar lewe lank as huishulp en kon destyds nie bekostig om hom te laat studeer nie. Steeds het hy oral aansoek om toelating vir medies gedoen: Medunsa (nou die Sefako Makgatho-Universiteit vir Gesondheidswetenskappe), Universiteit van Kaapstad, asook Pretoria, Vrystaat en KwaZulu-Natal. Tevergeefs. Hy is nie by een van dié universiteite aanvaar nie.

“Nadat ek soveel keer afgekeur is, het ek geweet dat daar geen manier was dat my ma verder my universiteitsaansoeke kon bekostig nie. Tóé besluit ek om in die plaaslike Spar te gaan werk.”

Dié werk was een van die moeilikste dinge wat Hadebe nog moes doen, aangesien hy kos vir sy voormalige klasmaats gedurende dié tyd moes pak. Hy vertel dat hy soms agter die rakke gaan wegkruip het sodat hulle hom nie kon sien of jammer kry omdat hy in die supermark werk, terwyl hulle verder studeer het nie.

Hy was egter vasbeslote om eendag nes sy klasmaats verder te gaan studeer met net een doel voor oë – om ’n dokter te word.

Hadebe het sowat ’n jaar en ’n half by die supermark gewerk waartydens hy sy hele maandelikse salaris net so weggesit het vir die dag wanneer hy eindelik vir medies aanvaar sou word. Hy vertel dat hy die een ná die ander afkeurbriewe van universiteite ontvang het. In dié stadium het hy egter nié van Universiteit Stellenbosch geweet nie. “Op ’n klein plekkie soos Piet Retief weet jy nie van ’n plek soos Stellenbosch nie.”

Dit is eers nadat ’n vriend hom van dié universiteit vertel het dat hy in ’n internetkafee gaan sit en sy aansoek gestuur het.

Hadebe vertel dat hy nooit dié dag sal vergeet toe hy die oproep kry dat hy eindelik vir medies by US aanvaar is nie. “Ek het dié dag ’n werksessie bygewoon. My foon het gelui en ek het na buite gegaan om te antwoord. Ek was verheug. Ek was toe al so gewoond daaraan om afgekeur te word. Ek moes die vrou oor die foon vra om haar woorde te herhaal.”

Hy vertel dat hy nie kon wag om sy ma te vertel nie. Sy ma het nie ’n selfoon gehad nie en hy het huis toe gehardloop om die blye nuus met haar te deel. Sy het begin sing en dans van blydskap. “Daardie dag en my gradeplegtigheid is twee dae wat my altyd sal bybly.”

Dr. Xolani Hadebe het Dinsdag sy lewenslange droom verwesenlik toe hy sy graad MBChB (geneeskunde) aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. (Foto: Facebook)

Hadebe is eindelik twee jaar ná skool op 21-jarige ouderdom na Stellenbosch om sy droom van dokter word te verwesenlik. Hy vertel dat dit egter nie maklik was toe hy eindelik in die Eikestad aanland nie. “Dit was ’n kultuurskok. Ek het nog nooit so baie mense van verskillende kulture ontmoet nie. My huistaal is isiZulu en ek het moeilik Engels gepraat,” sê Hadebe vandag in vlot Engels.

Dit het egter mettertyd beter geraak en hoewel hy soms lui wou raak, het die blote gedagte aan sy ma en sy familie hom aangemoedig om hard te werk. “My ouma sou vandag so trots gewees het,” sê hy.

Hadebe sal vanaf volgende jaar sy twee jaar lange internskap by Madadeni Provinsiale Hospitaal in Newcastle, KwaZulu-Natal, voltooi. Hy sien veral daarna uit dat sy nuwe tuiste nader aan sy ouerhuis op Piet Retief is.

Hadebe vertel dat hy sedert sy eerste jaar op universiteit maar net twee keer ’n jaar kon huis toe gaan. Ja, ’n deel van hom is wel hartseer om Stellenbosch te verlaat. “Ek het oor die jare ook familie hierdie kant gemaak, maar ek sal kom kuier.”

Dan lê sy gemeenskapsdiensjaar voor waarna Hadebe in ’n spesifieke mediese rigting wil spesialiseer.

Sy aanvanklike plan was om in chirurgie te spesialiseer, maar hy sal waarskynlik deur die loop van sy internskap sien waarin hy werklik belangstel. “Ek gaan dit tyd gee voor ek besluit.”

Op ’n vraag wat sy boodskap sal wees aan jong mense wat graag verder wil studeer, maar nie die geleentheid het nie, antwoord hy: “Om hard te werk is beslis die moeite werd. Jou agtergrond definieer nie wie jy is of waarheen jy op pad is nie. Wees nederig, sluk jou trots, behandel ander met respek en werk hard.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Rina Kotze ·

Well done Doctor!

You are an inspiration for most of the younger generation that do not want to work hard or get their hands dirty to get somewhere!

Johan ·

Baie geluk dokter! Dit is baie inspirerend en gee hoop aan baie mense.

Marcelle ·

What a wonderful country this would be if we have more “go getters” like him.
Well done!

MissDemeanor ·

What a wonderful country thos would be if other go-getters had access to resources that would allow them to reach their full potential. This young man was able to get a job at SPAR and could save money for his studies. What if he did not get that job? Many young people want to be employed but find themselves unemployed through no fault of their own. Congratulations on your hard work and your achievements Dr! You are an inspiration.

LF ·

Gee hierdie storie my nou hoendervleis! So mooi. Well done Dr!

Jacques ·

Congratulations Doctor . It just show you that hard work can bring you more joy and respect for all kind of people . Well done . I salute you .

Cora Simpson ·

Dis absoluut wonderlik. Het n knop in my keel gekry uit pure trots op die jong man wat net nie op gegee het nie. n Les om te leer. So vreeslik geluk. As jou ouma hier was, was sy nou die trotse “GOGO” in die land.

Karolis ·

Dok, ek moet vir jou noem, jou verhaal raak diep.
Hoop jy inspireer andere. Alle sukses vorentoe.

Marlize ·

Congratulations Dr!! You showed each and everyone what you can achieve if you put your heart into it!! Good luck in the future!

Rooikop ·

Baie geluk ………….. ek haal my hoed af vir jou ………….Well done

Lynette ·

Well done, you’re a true inspiration to all of us! Your determination shows what can be achieved, even though the journey may be difficult.

KG ·

Leeu ek stem volkome saam met jou. Ek dink wel die rede hoekom sulke verhale deesdae so uitstaan is omdat daar soveel mense is met daai “sense of entitlement” mentaliteit. So wanneer mens so ‘n verhaal hoor is dit baie inspirerend, maar ek glo wel nie ‘n geisoleerde geval nie

AW ·

“In order to get from what was
to what will be,
You must go through what is.”

CLIVE ·

WAAR DAAR N WIL IS SAL DAAR N WEG WEES!!! GELUK , EN MAG JY VIR ANDER N INSPIRASIE WEES. WERK HARD VIR WAT JY WIL HE EN DIT SAL GEBEUR.

Paul ·

Man dis nou hoe dit gedoen moet word! Nou moet nog net Cyril, die ANC en Julius hierdie sukses ter harte neem en die boodskap soos in die laaste paragraaf van die artikel aan die ministers en hul volgelinge tuisbring.

En ek haal aan: “Jou agtergrond denieer nie wie jy is of waarheen jy op pad is nie. Wees nederig, sluk jou trots, behandel ander met respek en werk hard.”

Paul ·

Maar was dit nie ook die primêre boodskap van Johan Rupert nie? En toe verguis die linkse media hom.

OumaLien ·

Uiteindelik ‘n “Feel Good story”. Welgedaan Dr. Hadebe. Weereens wys dit dat harde werk en deursettingsvermoë altyd goeie vrugte afwerp. ‘n Man om op trots te wees.

Peanut ·

Baie geluk Dr. Hadebe, n groter inspirasie kon jy nie wees vir die jongmense van Piet Retief. Mag jy groot hoogtes bereik en steeds nederig bly. Baie voorspoed.

RG ·

Congratulations Dr. Hadebe. If only your dedication, determination and endurance was contagious.

SjN ·

Knap gedaan, haal my hoed af vir die Dr, wys jou net dit kan gedoen word.

Christa ·

Well Done, young man! You deserve the best, because you are the best.

Katerina ·

Baie geluk Dr.Hadebe! Ek is ook trots op jou,alles van die beste vir jou toekoms!

Freddie van Heerden ·

Baie geluk, Dr Hadebe! Dit wil nou wraggies gedoen wees. Trots op jou prestasie!!

Deborah ·

Van wanneer af weet n Pietie nie van Stellenbos nie? Net een vraag dr Hadebe, wie het betaal?

Yolandie ·

Wow – fantasties- baie geluk.
Will dr nie dalk oorweeg om in PEADTRIC IMMUNOLOGY te spesialiseer nie. My dogter het CVID plus ander en daar n ONGELOOFLIKE tekort en ONKUNDE oor PIDD en al sy sub klasse en drs wat kundig is daaroor?

Granny B ·

Oh my dr Xolani – what can I say? Your story is an inspiration and I had goose bumps while reading your story. I can see that you are a very humble man. May God bless you, keep you, may HIS face shine upon you, and give you peace. Wenze kahle ,inkosi ikubusise! u Bertie

Granny B ·

Inkosi ikubusise, udokotelo Hadebe. you are a very humble man. I LOVE this story, it gave me goose bumps and I was emotional. Your mamma can be proud.

Amanda ·

Wow…. ek sit hier met trane in my oë….. wonderlike inspirerende lewens les wat baie jonk en oud kan lees en saam hulle neem…. ek is self in die medies…. en glo en vertrou in my hart dat die nuwe Dr een is wat sy werk met passie sal en gaan doen!!! Waar daar n wil is…. daar IS n weg!!!’
Seëninge vir jou toekoms verder dokkie dok!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.