Varswaterbronne onder groot druk

(Foto: Garden Route Municipality/Facebook)

Varswaterbronne wêreldwyd is onder druk weens groeiende bevolkings, verstedeliking en ontwikkeling wat ʼn negatiewe uitwerking op waterbeskikbaarheid en -gehalte het.

Volgens die Tuinroete-omgewingsforum (GREF) doen Suid-Afrikaanse waterowerhede en munisipaliteite egter nie genoeg om omgewingsrampe te voorkom nie.

“Verantwoordelike bestuur van afvalwaterfasiliteite en die beskerming van die land se varswaterbronne is heeltemal moontlik en vir seker nie onderhandelbaar nie. Hierdie doelwit kan bereik word deur die opleiding van toegewyde personeel wat waterverwante take op alle vlakke hanteer, volgehoue instandhouding en opgradering van afvalwaterfasiliteite om die verhoogde invloei van afvalwater te hanteer, insluitend voldoende tegniese kapasiteit en kennis, toesig en ervaring,” sê Cobus Meiring van die forum.

“Die hedendaagse bedreiging vir watersekerheid kan egter redelik vinnig gepak word om beter kwaliteit van afvalwater wat na behandeling afgevoer word, te verseker. Dit lei tot gesonder rivierstelsels tot voordeel van stroomaf-watergebruikers en afhanklike ekostelsels.

“Suid-Afrikaanse owerhede op alle vlakke het oor dekades heen doeltreffende behandeling van afvalwater verwaarloos. Die dodelike uitbreking van cholera wat in Mei vanjaar byna veertig lewens by Hammanskraal buite Pretoria geëis het, is ʼn voorbeeld van die gevolg van wat net as growwe verwaarlosing en onbevoegdheid beskryf kan word. Dit word ook vererger deur immer teenwoordige kragonderbrekings by pompstasies.”

Die cholera-uitbreking in Hammanskraal het opslae gemaak vanweë die noodlottige gevolge daarvan. Wat meer dikwels nie die nuus haal nie, is die uitwerking van institusionele mislukking om afvalwater doeltreffend te hanteer op Suid-Afrikaanse riviergesondheid en die ineenstorting van die ekostelsel, sê Meiring.

“Daar is byna geen rivierstelsels in Suid-Afrika oor waar die water nie tot die punt besoedel is wat dit noodlottig sou wees om te drink as dit nie gekook of behandel word nie.”

Grondeienaars het ook ʼn verantwoordelikheid en ʼn rol om te speel wat betref waterbestuur.

Volgens Meiring is die behandeling van afvalwater in die Tuinroete en die Suid-Kaap oor die algemeen op ʼn aanvaarbare standaard danksy gesonde munisipale bestuur, maar hy meen baie meer kan gedoen word vanuit ’n omgewingsbestuursoogpunt.

“Behalwe om by die beste watergebruikbestuurspraktyke en onttrekkingsgrense te hou, behoort grondeienaars en grondbestuurders in die streek meer te doen in terme van die bestuur van indringerplante op hul eiendomme, veral langs riviere, strome en vleilande, en in die proses bydra tot die welstand van die omgewing en ʼn hoër lewensgehalte vir almal wat in die streek woon.”

Die Tuinroete-omgewingsforum sal volgende Donderdag sy indaba vir klimaatsverandering en omgewingsbestuur saam met die Nelson Mandela-universiteit by die George-kampus aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Faraway sal mens nie eers winkel water eendag kan vertrou nie? Lyk my bier sal dan die beste opsie wees., Bier vir ontbyt, bier saam met middag ete, en net wir afwisseling bottel wyn saam met aan ete!

JohanR ·

Nog ‘n ANC sukses storie. Mens kan verseker wees dat onse president, ministers en kabinet, NOOIT sal hoef te doen kry met besoedele water nie!

Amelia ·

En kyk maar wie is meeste wat gemors in water gooi wasgoed doen in riviere res sal ek nie se nie danword my kommentaar verwyder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.