Veearts verkla ná woede oor hond se behandeling

Luna, ‘n skimmelworshond, se voorpoot moes afgesit word. Haar eienaar is woedend oor die aanvanklike veeartsbehandeling wat sy gekry het. (Foto: Verskaf)

Wat ʼn ongelukkige voorval met ʼn beseerde voorbeen moes wees, het in ʼn nagmerrie vir ʼn Pretoriase troeteldiereienaar ontaard. Sy geliefde hond se lewe het geruime tyd aan ʼn draadjie gehang, glo weens die aanvanklike veeartsbehandeling wat sy ontvang het. Een van haar voorpote moes intussen afgesit word.

Christiaan Smit, ʼn Pretoriase makelaar, is gebroke oor die trauma waaraan sy geliefde skimmelworshond, Luna, onderwerp is. En hy is woedend. Smit het dr. James Davies, wat die Doornpoort-dierekliniek bedryf en Luna behandel het, reeds by die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad verkla.

Luna het haar voorpoot op 24 Mei beseer toe sy uit Smit se bakkie geklouter het. Hy het haar na Davies vir behandeling geneem en ʼn ondersoek het gewys ʼn lit in haar regtervoorbeen is gebreek.

Davies het aanbeveel dat ʼn operasie gedoen word en ʼn plaat en skroewe in Luna se been gesit word. Daar was geen oop wond nie en Luna is vir die operasie opgeneem, sê Smit. Hy het die volgende dag gehoor daar is nog swelling wat moet sak voor die operasie gedoen kan word en die operasie is op 26 Mei gedoen.

Volgens Smit het Davies laat weet dat die operasie goed verloop het. Hy het ʼn dag later gevra of hy sy hond kan besoek, maar is volgens hom meegedeel dat dit nie moontlik is nie, glo omdat dit die ander pasiënte ontstig. Smit sê hy het wel ʼn foto van Luna ontvang.

Smit sê hy kon Luna sowat twee weke lank nie besoek nie. Op 8 Junie het hy daarop aangedring om sy hond te sien en was hy geskok om te verneem in watter toestand sy was. Hy sê hy is voor een van twee keuses gestel: laat die been amputeer, of maak vir Luna van kant.

In daardie stadium het hy steeds nie sy hond gesien nie – en Luna is na hom gebring.

“Toe eers sien ek die toestand waarin my hond is. Sy was vel en been, sonder ʼn drup of behoorlike voeding.”

Volgens hom het Davies aangebied om die amputasie gratis te doen, nadat Smit aanvanklik ʼn deposito van R500 vir die behandeling betaal het en die rekening in die geheel na verwagting sowat R7 500 sou beloop.

ʼn Woedende Smit het sy hond summier gevat en dadelik met haar na die Onderstepoort- Veterinêre Akademiese Hospitaal gery. Daar was hy platgeslaan toe veeartse die verband van Luna se been verwyder. ʼn Verslag van dié dierehospitaal lui onder meer dat die regtervoorbeen nekrose en ʼn verlies aan vel en spier toon. Die plaatjie wat ingesit is, kon gesien word, sowel as die fraktuur. Daar was wanvoeding, asook dehidrasie wat verband hou met nierversaking, en ʼn komplikasie met die fraktuur.

“Die twee chirurge het net daar gestaan en hulle koppe geskud…” sê Smit.

Luna tydens haar behandeling. (Foto: Verskaf)

Smit sê die hond is dadelik in die hoësorgeenheid opgeneem en het buisvoeding en ander behandeling ontvang.

Die voorlopige kwotasie vir Luna se nuwe behandeling het R18 000 beloop en die hondjie is weer opgeneem. Smit sê hy is terug na Davies se praktyk om die kwessie met hom op te neem en die veearts het hom glo R18 000 in kontant gegee om die Onderstepoort-rekening te vereffen.

Die Onderstepoort-dierehospitaal het intussen laat weet dat Luna se nier- en infeksietelling steeds te hoog is vir ʼn operasie en dat sy eers gestabiliseer moet word.

“Sy is twee dae lank gestabiliseer omdat haar liggaam besig was om in te gee. Hulle het op 10 Junie laat weet sy is gestabiliseer en hulle moet ongelukkig ʼn amputasie doen – dit is die enigste manier om haar te red.”

Luna is terug by die huis en sterk nou by haar gesin aan. (Foto: Verskaf)

Hy sê die kenners het aangedui dat Luna waarskynlik nie sou oorleef as haar been vroeër onder verdowing afgesit sou word, soos Davies volgens hom aanbeveel het nie.

Smit en ander familielede het na afloop van die operasie gereeld by Luna gaan kuier en sy het gaandeweg begin herstel. Haar wond is ook elke dag behandel.

“Ek wil keer dat ʼn ander hond of troeteldier deur dieselfde trauma gaan. Sy het ʼn gebreekte voetjie gehad toe ek haar vir hom [Davies] gegee het. Ons moet eindelik haar lewe probeer red én haar been is afgesit oor die behandeling wat sy gekry het.

“Kan jy jou indink deur watter pyn sy is. Ek is nie toegelaat om haar te sien nie en hy [Davies] het presies geweet hoekom ek haar nie mag sien nie.”

Sy hond leef, maar Smit is gebroke oor die lyding wat Luna moes verduur.

“Luna is soos my kind. Ek is nie getroud nie, ek het nie kinders nie. Sy is elke dag by my en nooit weg van haar mense nie.

“Vir twee weke lank was sy alleen en seer. Sy kan nie ʼn foon optel en my bel nie… en die veearts weier dat ek haar sien.

“Ek is kwaad. Ek is seer,” het ʼn emosionele Smit vandeesweek gesê.

Luna is Woensdag ontslaan en terug by die huis.

Christiaan Smit sê sy hond, Luna, is soos ‘n kind in die huis. (Foto: Verskaf)

Smit sê sy het begin rondstap, maar is steeds op medikasie en die rehabilitasieproses gaan maande duur.

“Sy is ʼn kampioen. Sy sal weer haarself wees, maar dit is jammer dat sy hierdeur moes gaan.”

Smit sê niks kan Luna se been teruggee of haar 14 dae van uithongering en pyn ongedaan maak nie en daarom beywer hy hom daarvoor om te verhoed dat nog ʼn dier deur dieselfde lyding en trauma gaan.

Maroela Media het Davies om kommentaar genader. Hy het die aanbod om sy weergawe van gebeure te stel, van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ouvrou ·

So bly Luna is beter. Trots op jou Christiaan dat jy baklei het vir haar en die veearts ontbloot het wat haar so laat ly het. Ons dierekinners kan nie vir hulself praat nie, so ons moet dit doen. Glo die veearts sal sy dag kry.

Di ·

Sjoe, dit is BAIE hartseer. Hy sal moet verduidelik wat hier gebeur het, klaar!

Misky ·

Sterkte Luna en Mnr. Smit, eis asb antwoorde van daai veearts.

Die ander kant van die saak ·

Dit is hartseer, maar ek glo dat dit belangrik is dat Maroela Media al die feite bekom en eers wag vir die veeartseny raad se bevinding voordat die betrokke veearts in die openbaar ‘skuldig’ bevind word. Daar was duidelik komplikasies met die operasie, maar hy het betaal vir die verwysing na Onderstepoort. Die R7500 koste beraming is baie laag vir die plasing van n chirurgiese plaat. Kon die eienaar R18 000 bekostig om aanvanklik direk na die Onderstepoort hospitaal te gaan? Het die veearts die eienaar probeer help om n meer bekostigbare opsie te probeer … wat toe misluk het??

Melissa ·

Ek stem glad nie saam nie, alles wys na die nalatigheid van die veearts. Deur nie van die begin af reguit en eerlik met die eienaar te wees nie wys dat hy opgeneuk het en sy foute probeer toe smeer het, dalk nog gehoop die hondjie gaan dood sodat hy kan se daar was n komplikasie gewees, skuus daaroor! En om n hond vir twee weke so uit te teer en te laat dehidreer. Nee wat, al vertel die veearts sy kant van die storie sal daar elk geval nie veel wees wat hy kan se om die saak beter te maak nie. As n honde mamma is ek dankbaar dat mense soos Christiaan media toe gaan voor ek in dieselfde gat trap met n veearts wat nie my hond se belange op die hart het nie. Al die geld in die wereld wat hy mens kan aanbied sal nie genoeg wees om op te maak vir wat die hond deur is nie.

Die ander kant van die saak ·

“……, alles wys na die nalatigheid van die veearts” Weereens is die alles slegs die opinie van Christiaan! Die dae dat n persoon in die media ‘ ge-judge en ge-jury’ word met eensydige inligting is verby. Dit moet eers deeglik ondersoek word. Hierdie artikel het die potensiaal om groot skade aan te rig aan die individu. Het ons iets geleer uit die Johnny Depp/Amber Heard verhoor?

4ntj13 ·

Ek is baie dankbaar die veearts is by sy professionele organisasie verkla. Dis jammer dat hulle hom nie intussen van hul rol geskors het, hangend die ondersoek nie. Daar is net mooi geen kondisie wat jou hondekind jou nie mag sien nie. As die ander honde sou ontstel word, kan sy steeds van die hokke na die ondersoekkamer gebring gewees het. Sy sal baie verander na al die trauma, maar sy sal steeds jou geliefde kind wees! Sterkte met haar herstelpad!

Renee ·

Stem saam ek het amper hy liefie hond verloor a.g.v Doornpoort kliniek gelukkig 2 de opinie gekry en bewyse dat hy my hond geopereer het wat nooi gebeur het nie net n’ gat in sy been gemaak en gegips. Tweede opinie het vir my die x strale gegee om te bewys dat daar nooit naby sy knie geopereer is nie.

Jefrey ·

Dit is jammer wat die dier en eienaar moes deurgaan. Van die kommentaar hier is egter heeltemal ongevraagd en oorboodig. Ek persoonlik neem al my diere na die ‘ betrokke veearts vir oor die 10 jaar en ek kan getuig dat hy een van die beste veeartse in Pretoria is. Die man probeer altyd help waar hy kan, met n sterk vertoue op God in al sy doen en late. Ek is seker daar is BAIE meer stories oor hoe hy diere al gered het, myne insluitend. Ek verstaan dinge kan verkeerd gaan, maar dit is nie reg om iemand te kruisig op sosiale media as jy nie eers die persoon of die ware omstandighede rondom die voorval ken nie.

Zoey ·

Ek sal nooit in my lewe weer een van my diere na Doornpoort toe vat nie. Hulle het my hond vir drie dae agter mekaar verkeerd gediagnoseer nadat ek haar vir drie dae agter mekaar na hulle moes vat vir inspuitings. Hoe meer ek gesê het daar is iets ernstig fout, hoe minder het hulle geluister. Toe hulle uiteindelik op die regte diagnose kom, was dit te laat. Tot vandag voel ek skuldig dat sy alleen in ‘n hok onder hulle toesig dood is en omdat ek haar nie eerder na ‘n ander veearts gevat het nie. En jammer om te sê, maar die meeste veearste vra baie meer vir hulle dienste as wat werklik kos.

Francette ·

Ek het dieselfde stel afgetrap met daardie veaarts in 2015..my kat moes uitgesit word weens al sy beserings en verwaarlosing..RIP Flankies.
Hoop dat gereg en die waarheid sal seëvier, baie sterkte met jou hondekind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.