Veel meer as museum: hierdie is erfenisbelewenis

Voortrekkermonument, Erfenisstigting, monument

Volkspele by die Voortrekkermonument. (Foto Verskaf)

Die Voortrekkermonument het as’t ware ʼn nuwe huppel in sy stap ná hy die afgelope drie jaar nuwe mylpale bereik en sy deure só vir besoeker kon oophou.

Dit volg nadat dié bekende monument in Pretoria se bestuur in 2020 ʼn moeilike besluit moes neem: maak hulle die deure toe, of nie.

Drie jaar later, met die intree van ʼn nuwe bestuurskomitee, het die monument se fokus verskuif van ʼn besoek-museum na ʼn beleef-jou-erfenis-ervaring. Dié skuif kan toegeskryf word aan 38 groot projekte wat op die monument se historiese terrein aangepak is, sê die monument in ʼn verklaring.

Die bestuur het sy suksesse gedeel op die viering van Wêreldentrepeneursdag (op 16 April) en Wêreldmonumentedag wat Donderdag gevier is.

“Hierdie besonderse sukses kan ons nou 75 jaar ná die inwyding van die Voortrekkermonument aankondig.”

Die monument, wat nie ʼn staatsubsidie ontvang nie, sukkel al etlike jare om kop bo water te hou. Daar is op ʼn omkeerstrategie besluit en ʼn nuwe bestuur het die leisels oorgeneem.

Maar die sukses kan nie alleen voor hul deur gelê word nie. Danksy die gemeenskap wat by die projekte ingekoop het, het die deure oopgebly.

Voortrekkermonument, Erfenisstigting, monument

Die Voortrekkermonument het in drie jaar verskeie groot projekte aangepak om sy deure oop te hou. (Foto: Verskaf)

“Die betrokkenheid van ’n gemeenskap binne die kultuur moenie onderskat word nie. Vanuit die gemeenskap het ons ’n geweldige bydrae gekry; kyk maar na die waardevolle skenkings en mense wat aansluit as vriende van die monument. Die gemeenskap se bydrae maak kulturele entrepreneurskap suksesvol,” sê Petré Theron, adjunkhoof van die Voortrekkermonument.

Buiten die projekte, is daar ook drie nuwe monumente op die Voortrekkermonumentterrein geopen, asook die nuwe restaurant, Skool op Wiele.

“In 2023 was daar 10 groot feeste op die terrein. Hierdie jaar beplan ons vir 14 feeste. Die publiek kan uitsien na die Steve Doen Steve-konsert, Mampoerfees, Erfenisfees, Gelofteweek-feesvieringe, Glimlagfees, Jopie-fees en nog baie ander,” sê Maree.

Geloftedagvierringe het ook sedert 2021 gegroei van 10 000 mense tot die meer as 30 000 wat verlede jaar dié dag by die Voortrekkermonument herdenk het.

Die monument self spog nou met drie nuwe ambassadeurs: Dricus du Plessis, Adam Tas en Marcell Coetzee.

Vir die komende jaar word selfs meer nuwe projekte beplan. Dit sluit onder meer ʼn splinternuwe interaktiewe uitstalling in die Pioniersentrum in. Dié uitstalling sal handel oor die vestigingsjare ná die Groot Trek tot en met die aanbreek van die Anglo-Boereoorlog.

“Elkeen van ons het ’n doel om te bou in die gemeenskap. Ons moet hierdie boodskap ook aan die jeug kan oordra, daarom wys ons hulle hoe ons voorouers gebou het, en leer ons hulle hoe hulle gemeenskappe gegroei het,” sê Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Toergids ·

Die Voortrekker Monument is een van die min plekke wat buitelandse toeriste in Pretoria besoek. Die aanbieding en ervaring kan nie vergelyk word nie. Alhoewel daar soms uitdaging op die terein is, is dit altyd ‘n plesier om met buitelanders ons erfenis te deel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.