Veels te min vervolg vir mensehandel in SA – studie

(Argieffoto)

Suid-Afrika het voldoende wetgewing om mensehandel – veral mense wat vir sekshandel gesmokkel word – te pak, maar dié kopers gaan straffeloos voort om vroue en kinders in Suid-Afrika uit te buit.

Die eerste gedeelte van ʼn verslag deur ʼn groep plaaslike en internasionale organisasies oor die omvang van mensehandel in Suid-Afrika is vandeesweek bekend gestel.

Bewyse wat tydens die studie ingesamel is, wys dat mensehandel ʼn ernstige en sistemiese probleem in Suid-Afrika is wat boonop verband hou met misdaad soos geslagsgebaseerde geweld, prostitusie, georganiseerde misdaad, vermiste mense, onreëlmatige migrasie, kindermishandeling en arbeidsdispute.

Die verslag lui dat suksesvolle vervolgings in Suid-Afrika ook buite verband laag is met die voorkoms van hierdie soort misdaad. “Wetstoepassers se reaksie op mensehandel is oorwegend reaktief en die volgehoue oproepe vir gespesialiseerde en inligtingsgedrewe ondersoeke deur veteraanondersoekers val op dowe ore,” lui die bevindings.

Boonop maak korrupsie en die betrokkenheid van amptenare mensehandel moontlik.

Die studie is tussen 2020 en 2022 gedoen en is ʼn opname van data of eerstehandse vertellings van voorvalle van mensehandel wat op enige manier by die owerhede aangemeld is of tot in die howe gevorder het.

Die studie wys diegene wat in die sekshandel beland, is die grootste groep van slagoffers wat voorvalle aanmeld of eindelik by strafsake betrokke is, terwyl slagoffers wat gesmokkel word om as slawearbeid gebruik te word, soortgelyk aan internasionale neigings, veel minder vervolgings sien.

“Uiterste geweld word gebruik deur smokkelaars, terwyl plekke waar uitbuiting voorkom dikwels binne gemeenskappe is en vir lang tye bedryf word sonder enige sinvolle ingryping van wetstoepassingsowerhede,” lui die studie.

“Verslae van die burgerlike samelewing en bewyse in verskeie suksesvolle vervolgings bevestig traak-my-nieagtigheid, korrupsie en aandadigheid van wetstoepassers.”

Daar is ook duisende mense wat “van die diens gebruik maak” om seks kwansuis te koop – by vroue en kinders – en ook hulle kom straffeloos weg.

Die verslag lui voorts dat verskeie volwasse webwerwe, van wie sommige hul advertensies op hoofpaaie plaas, herhaaldelik by bewerings van sekshandel betrek word. Tog is nie een van hulle al suksesvol vervolg nie.

Die verslag beveel aan dat ʼn inligtingstelsel dadelik op die been gebring word om die voorkoms van mensehandel te monitor en bewyse oor die voorkoms van dié soort misdaad by te hou, asook dat wetgewing doeltreffend ingespan moet word om die gebruik te stuit.

Die navorsers het bevind “daar is weinig twyfel dat hierdie misdade en die mense wat dit pleeg, ʼn bedreiging vir nasionale veiligheid inhou en die integriteit van die land se grense verminder”.

Die navorsers hoop om, deur middel van die verslag, bewyse oor die aard en omvang van mensehandel in die land onder die owerhede se aandag te bring. Die volledige verslag word in Maart bekend gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

whatever ·

‘n SA paspoort is een van die gewildstes in die wêreld – verseker nie vir toerisme nie. Die skelms weet hier kan hul wegkom met handel en wandel soos hul wil.

Hasie ·

Hofsake word weer en weer en weer en weer en weer uitgestel .Hoekom nie net die hofsake afhandel en kla kry nie ? Daar moet wet in plek kom dat hofsake nie onbepaald uitgestel word nie . Dit moet binne 3 maande afgehandel word en vonnis moet gelewer word.Dan sal skuldiges nie elke keer maar net weer wegkom met moord nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.