Veiligheid by UP prioriteit te midde van loonstaking

AfriForum Jeug het ʼn dringende beroep gedoen op die Universiteit van Pretoria (UP) nadat stakers Dinsdag die eerste klasse van die akademiese jaar ontwrig het.

Die organisasie het die situasie Dinsdag by die universiteit as “chaoties” beskryf. Volgens AfriForum Jeug het stakende UP-werkers onder meer studente toegang tot die kampus geweier.

In ʼn dringende skrywe het die jeugbeweging die UP-bestuur gevra om studente se veiligheid te verseker. Volgens die beweging het van die stakende werkers ook van die ingangshekke gesluit en studente verhoed om toegang tot die universiteit te kry. “Van die studente word virtueel as gyselaars aangehou, want die hekke van die universiteitsparkering is ook gesluit, wat verhoed dat hulle huis toe kan gaan,” sê AfriForum Jeug.

ʼn Loongeskil word glo tans tussen die vakbond Nehawu en UP besleg en het  oorgegaan in ʼn beskermde staking. Vakbondlede eis ʼn loonverhoging van 7%.

Veiligheidspersoneel neem ook glo deel van die staking.

Volgens Ronald Peters, AfriForum Jeug-bestuurder, het die UP-bestuur genoeg tyd gehad om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om toe te sien dat die akademiese jaar sonder probleme afskop, dat die staking nie inmeng met klasse nie en dat studente se veiligheid nie deur enige protesaksies in gedrang gebring sal word nie.

“Die UP-bestuur moet nou sy verantwoordelikheid nakom en toesien dat studente wat die kampus wil betree of verlaat, dit vrylik en sonder vrees vir intimidasie kan doen. Studente se veiligheid moet nou prioriteit geniet,” sê Peters.

UP het intussen in ʼn aanlyn verklaring gesê hy is verbind daartoe om studente sowel as personeel ingelig te hou oor enige verwikkelinge in die saak.

“Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat veroorsaak is deur die ontwrigting wat daar was met die toegang tot die kampus,” lui ʼn UP-verklaring.

“Ons prioriteit is om die veiligheid en welstand van almal binne ons universiteitsgemeenskap te verseker terwyl ons werk daarvan maak om aandag te gee aan alle kwessies.”

Studente wat hulle klasse misgeloop het as gevolg van die protesoptrede, word aangeraai om per e-pos kontak te maak met hul onderskeie fakulteitsdekane.

AfriForum Jeug het in sy dringende skrywe aan die universiteit aangebied om private veiligheidsdienste beskikbaar te stel om die veiligheid van studente, te midde van die plofbare protesaksie by UP se hoofkampus, te help verseker. Die jeugorganisasie monitor intussen ook die situasie by die universiteit se ander kampusse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ProPatria ·

Hierdie is ‘n ideale geleentheid vir studente van alle rasse om hande te vat (letterlik en figuurlik) en die stakers (van wie party by UP werk) op hulle plek te sit.

Lurock ·

Dit gaan steeds my verstand te bowe dat die probleme tussen mense/organisasies altyd ander mense, in hierdie geval studente, beïnvloed. Hierdie studente is nou die leidende party, hulle wat sweetblue sokkerball met die hele aangeleentheid te doen het. Ek kan waaragtag net my kop skud. Ons het in die outyd nie hierdie bollie gehad nie. Ons het gewerk en ons geld op ‘n eerlike hardwerkende manier gedoen en verdien.

Eclectus ·

Vrydag en Maandag was Universiteitsweg afgesper wat chaos met verkeer veroorsaak het. ‘n Paar TMPD lede staan by die versperrings en ginnegaap. As iemand net by Walton Jameson en Jorissen puntdiens sou doen, sou verkeer nie kilometers opdam terug in Florence Rebeiro nie. Vanoggend was die pad by die universiteit se ingang afgesper met honderde motoriste wat afgevoeter het in Universiteit net om te moes U-draai en terug te voeter in die chaos in. Geen poging van TMPD om die verkeer te reël nie, geen SAPD om die pad oop te hou en orde te handhaaf nie. Geen tegnologie en onderwys sal ooit vergoed vir ingeburgerde onnoselheid en luiheid nie. Die wiel is nie in Afrika uitgevind nie. Dixi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.