Verdoemende verslag oor seksuele teistering en geweld by universiteite

Rhodes-Universiteit

Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het vanmiddag ʼn verdoemende verslag oor seksuele teistering en seksuele geweld aan Suid-Afrikaanse universiteite by die parlement ingedien.

Tydens ʼn voorlegging aan die parlementere portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding het die kommissie gesê hulle het in reaksie op mediaberigte oor seksuele geweld en uitbuiting aan universiteite met ʼn indringende projek begin om die probleem te takel.

Die metodologie was om eerstens vraelyste aan studente en personeel van universiteite te stuur, en nadat dit terug ontvang is, dan ontmoetings daaroor met universiteitsbesture te hê oor die situasie en hoe om dit te verbeter.

Tot dusver is die proses aan 13 universiteite voltooi. Verskeie algemene bevindings en aanbevelings is gemaak oor universiteite, met spesifieke bevindings oor die Rhodes-Universiteit in Grahamstad, waar die probleem spesifiek akuut is.

Oor Rhodes spesifiek het die kommissie bevind dat die probleem nie nuut is nie. Die kommissie het die universiteitsbestuur ontmoet asook die polisie en die studenteleierskap. Inspeksies is ook op kampus uitgevoer.

Geslotebaantelevisiekameras is op die kampus geïnstalleer en beradingsdienste is geaktiveer.

Die kommissie het hul meelewing uitgespreek ná die onlangse dood van die Rhodes-student, Khensani Masdeko. Maseko het twee maande lank alleen die trauma van verkragting gedra voordat sy dit aangemeld het.

Oor die algemeen (maar sonder om spesifieke voorbeelde of uitsonderings te noem) het die kommissie bevind seksuele teistering is algemeen by universiteite, en dat beleid oor seksuele teistering nie genoegsaam aan studente en personeel oorgedra word nie.

Te min tyd word tydens die oriëntering van personeel en studente afgestaan aan die beleid oor seksuele teistering. Boonop is die beleid grootliks afgestem op personeel eerder as studente.

Die gevolglike onsekerheid oor beleid lei daartoe dat min voorvalle van seksuele teistering aangemeld word. Verskeie universiteite het ook nie tersaaklike beradingsdienste nie. Sommige universiteite het wel sulke dienste, en telefoonhulplyne in dié verband – ook vir gay studente.

Baie van die seksuele oortredings word kragtens die bevindings onder die invloed van alkohol en dwelms gepleeg.

Sommige universiteite het geen spesifieke studenteveiligheidsbeleid nie – veral nie vir studente wat nie koshuisbewoners is nie.

Die kommissie het universiteite nou verplig om voorligting oor seksuele teisteringsbestryding by oriëntasieweke in te sluit, en het selfs lesings daaroor by universiteite voorgestel.

Daar word nou van studenterade verwag om aan studente voorligting te verskaf oor reëls betreffende seksuele teistering, en om kanale vir die rapportering van seksuele oortredings te verskaf.

Nood-telefoonlyne en geslotebaantelevisiekameras word nou op kampusse aangebring en universiteite sal veel meer met die polisie saamwerk om die probleem op te los.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alida

Dit is omdat baie net daar is vir die lekker want alles word vir hulle deur die staat betaal. Alles verniet. Hulle studeer nie.

Danie Malan

Twyfel sterk of daar enige seksuele teistering by Akademia en Soltech is…

Illa Conradie

Ek was vier jaar lank op Universiteit Stellenbosch in die apartheidsjare, laat 1960’s. Daar was toe geen “verkragtingskultuur” nie. Mans is nie in vrouekoshuise toegelaat nie; kroeë het nie vroue toegelaat nie; en meisies moes spesifieke tye saans in die koshuis terug wees. Ons was almal versigtig om ons “goeie naam” te behou en was bewus daarvan dat sekere meisies wel swak reputasies gehad het, maar ons het nooit eens die name geken nie. So waar lê die probleem deesdae?

Jana

Hierdie is n ou probleem.
Voor ‘94 het gesiene professore hul hieraan skuldig gemaak.
Net om Sondag vroom in die kerk te sit.
Die slagoffer was sonder uitsondering die skuldige. Die slegte/los meisie.

Nita

Presies Illa, daar was toe nog reels en regulasies. Maar nou maak elkeen nes hy of sy wil. Mans en dames kan oor en weer in mekaar se kamers kuier. Drank vloei. Wat n gemors.