Verkeersbeampte sterf toe trok hom tref

Gijimane July Nkabinde is Maandagaand dood nadat hy deur ’n trok raakgery is. (Foto: Verskaf)

’n 57-jarige verkeersbeampte van Mpumalanga is dood nadat hy Maandagaand deur ’n vragmotor op die N4-tolpad raakgery is.

Volgens die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid was Gijimane July Nkabinde by die Middelburg-weegbrug aan diens toe die voorval omstreeks 19:30 plaasgevind het.

Hy het die vragmotor glo na die weegbrug gestuur toe hy deur dié voertuig getref is.

“Die vragmotorbestuurder is Dinsdag in hegtenis geneem en van strafbare manslag aangekla,” het Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement, Dinsdag gesê.

Die LUR van gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, het sy medelye met Nkabinde se geliefdes en kollegas betoon.

Hy het ook ʼn beroep op verkeersbeamptes gedoen om nie toe te laat dat dié voorval hulle ontmoedig nie, maar eerder aanspoor om harder te werk en strenger teen bestuurders op te tree wat padreëls verontagsaam – juis om die ontslape beampte te eer.

“Vragmotorbestuurders moet te alle tye samewerking aan wetstoepassingsbeamptes gee, aangesien dié beamptes se instruksies alle ander tekens op die pad vervang.

“Ons het opgemerk dat nie alle vragmotorbestuurders aan beamptes se opdragte op die pad gehoor gee nie. Daar is ʼn ingesteldheidsprobleem onder sommige vragmotorbestuurders wat padreëls voortdurend verontagsaam. Die houding van sommige vragmotorbestuurders moet verander, en vragmotormaatskappye moet ʼn kultuur onder hul bestuurders kweek om bedagsaam en verantwoordelik op die pad te ry,” het Shongwe gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Witwax ·

Die bestuurder van vragmotor was sekker al moeg om omkoop geld te betaal.

Piet ·

Daar is ʼn ingesteldheidsprobleem onder meeste bestuurders wat padreëls voortdurend verontagsaam. Die houding van bestuurders moet verander, en moet ʼn kultuur kweek om bedagsaam en verantwoordelik op die paaie te ry.

Marieta ·

Is darem uiters lagwekkend hoe die LUR’e altyd, soos mosterd na die maal, kastig hul skynheilige simpatie wil betuig met naasbestaandes. Maar intussen word daar net mooi boggerôl gedoen om te sorg dat die verkeerswette gehandhaaf en toegepas word nie! Hier by ons in Randfontein, is daar al tot vervelens toe gekla koor die vragmotors wat doodeenvoudig deur die woonbuurte jaag en alle stoptekens of ander verkeerstekens bloot net ignoreer. Net gister het ek weer toegekyk hoe daar byna n massiewe ongeluk plaasvind, agv daarvan. En wat dit nog erger maak, is dat 3 polisievoertuie vol polisieamptenare, doodluiters staan en toekyk hoe die ligte motorvoertuigie behoorlik binne in die veld in moes koes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.