Verkiesing: Duisende ekspats al geregistreer

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, tydens Donderdag se mediakonferensie. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Meer as 18 000 Suid-Afrikaners in die buiteland het reeds aanlyn geregistreer om danksy die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se heel eerste aanlyn registrasieplatform vanuit die buiteland hul kruisie in vanjaar se nasionale verkiesing te trek.

Die platform is in Desember in werking gestel.

Die meeste van die vroeë registrasies was in die Verenigde Koninkryk, Nederland, die Verenigde Arabiese Emirate en die Verenigde State van Amerika, het die OVK Donderdag bekend gemaak.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Suid-Afrikaners in die buiteland kan ook hierdie naweek (26, 27 en 28 Januarie) by Suid-Afrika se 120 konsulate, ambassades en hoë kommissariate in die buiteland registreer. Hulle sal ’n Suid-Afrikaanse ID én paspoort moet verskaf om te registreer.

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, het egter by die mediakonferensie in Centurion bekend gemaak dat Suid-Afrikaners in konflik-geteisterde Oekraïne, Israel en Soedan nie in persoon kan registreer om te stem nie. Suid-Afrika se konsulate, ambassades en hoë kommissariate in dié drie lande is op aanbeveling van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) weens veiligheidsredes tydelik gesluit.

Janet Love, kommissaris van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, tydens Donderdag se mediakonferensie. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Suid-Afrikaners in hierdie lande kan steeds aanlyn registreer, maar daar is geen waarborg dat die missies in dié lande weer operasioneel gaan wees teen die tyd dat die verkiesing gehou word nie.

Nog geen verkiesingdatum is in hierdie stadium geproklameer nie.

“Ons sal die beste moontlike stappe doen om te verseker dat almal aan hierdie demokratiese proses deelneem. Ons moedig burgers in hierdie lande aan om deur ons aanlyn portaal te registreer,” het Mamabola verseker.

Volgens hom het die OVK alle nodige maatreëls ingestel om te verseker dat niemand agterweë gelaat word nie en dat alle stemgeregtigde kiesers hulle kruisie kan trek. “Die komende verkiesing bied ʼn belangrike geleentheid vir alle Suid-Afrikaners om hul stemme te laat hoor, ongeag hul geografiese ligging.”

Byna 21 000 Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon het in 2019 in die nasionale verkiesing gestem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Ons wil baie graag stem. Maar ons moet 600km ry per trein en dit kos ons R1600. Hier is net 1 stem lokaal in Pole. Weet van mense wat wil stem maar afstand en koste ‘n probleem.

Prinses Bella ·

Inligting oor waar om die platform te vind en waar stemming in die buiteland gefasiliteer sal word, is swak en ontbreek skokkend. Ek persoonlik het nog niks nerens ontvang nie en het geen idee hoe waar dit gedoen kan word nie. Tipies van alle staats gekoppelde instansie in SA, doen die OVK nie veel beter nie.

Papsak ·

ASB STEM REG MENSE NET NIE VIR DIE ANC NIE GENOEG IS NOU GENOEG !!!!!?!!

piket ·

Prinses Bella, presies!
Geen werkbare inligting oor hoe om aanlyn te registreer nie.

Joan ·

Ek is dankbaar dat ons mense in die buiteland kan stem, maar . . . . . as iemand in die tronk sit, het hy geen reg om te stem nie. Deur sy eie toedoen, is hy van alle regte as vrymens gestroop. Hy moet eet wat hy kry, hy kan nie kies wat hy kan aantrek nie – klere of skoene. Hy kan nie eers sy haarstyl kies nie. Hoe wil hy nou “kies” wie hom moet regeer in die volgende paar jaar wat hy sy straf moet uitdien? Nee, hy mag nie toegelaat word om te stem nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.