‘Verlange, hartseer’ ná negejarige in botsing met boot sterf

Johané Botha (Foto: Verskaf)

“Ons verlange is onbeskryflik groot en ons harte is stukkend.”

Só vertel Johan (39) en Risella (35) Botha nadat hul negejarige dogter, Johané, in ʼn gru-ongeluk op die N1-snelweg buite Touwsrivier in die Wes-Kaap gesterf het.

Die gesin was Woensdag van Pretoria op pad na Kaapstad, waarheen hulle verhuis, toe die ongeluk omstreeks 17:10 plaasgevind het.

Risella en Johané het in ʼn Suzuki Ignis agter Johan en die egpaar se jongste dogter (6) in ʼn Volkswagen Caddy-bussie gery. Die bussie het ʼn sleepwa, waarop ʼn boot was, getrek.

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het die Caddy by ʼn verpligte stop-en-ry-punt weens padwerke stilgehou. Die Suzuki het daarna agter in die sleepwa met die boot vasgery. Dit is nie duidelik wat presies tot die botsing aanleiding gegee het nie.

Die ongelukstoneel [Foto: Ismail’s Towing/Facebook]

“Die skroef van die boot het die motor [Suzuki] se voorruit deurboor en die meisie [Johané] teen die kop getref,” sê Van Wyk.

“Sy het ernstige kopbeserings opgedoen en is per ambulans na ʼn hospitaal op Worcester geneem waar sy later aan haar beserings beswyk het.”

Die polisie het ʼn saak van strafbare manslag aanhangig gemaak.

Volgens Johan het Risella ook verskeie beserings opgedoen. Sy sterk tans by die huis aan. Hy en die jongste dogter is nie beseer nie, maar ontvang trauma-berading.

Berusting

Johan en Johané (Foto: Verskaf)

Risella en Johané (Foto: Verskaf)

Johané se dood is ʼn groot skok vir die gesin, maar hulle probeer berusting vind dat sy nou by “die Here is”.

“Johané is vir seker nie dood nie; ons Skepper het haar kom pluk soos ʼn ryp blom vir sy pragtuin. Hoewel ons haar mis in ons midde, is sy nou in die hemelse koninkryk saam met haar twee boeties, oupas, ouma en ander geliefdes,” sê Johan.

“God leer ons dat ons nie skatte op die aarde bymekaar moet maak nie, maar in die hemel waar mot en roes nie verniel nie. Ons troos ons daaraan dat sy een van ons skatte in die hemel is wat vir ons wag.”

Johan beskryf Johané as “baie saggeaard, vriendelik, geduldig, behulpsaam en wys”.

“Sy het altyd ander voor haarself gestel. God sê dat wie eerste is sal laaste wees en wie laaste is eerste. Sy het sonder moeite en sonder om enige erkenning daarvoor te vra só geleef en God het haar raakgesien, haar hart en menswees geken.

“Sy is vir ons gestuur en sy het haar rol vervul en ontsettend baie mense se lewens aangeraak. Sy was ʼn voorbeeld vir ons en ons eer haar daarvoor.”

ʼn Back-a-Buddy-geldinsameling is intussen vir die gesin begin om hulle met die mediese uitgawes ná die ongeluk, asook die begrafnisonkoste te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mieke ·

Ons innigste simpatie en diepste meegevoel vir hierdie familie. So jammer dat julle pragtige dogter van julle weggeneem is. Mag onse Hemelse Vader julle in hierdie moeilike tyd toevou in Sy Liefde en julle met Sy Krag bystaanen ondersteun. Baie sterkte.

Nelmarie ·

Dit is verskriklik hartseer, kan my nie eers indink hoe hulle moet voel nie.

Yolandie ·

My hart gaan uit na die gesin en familie wat Johane moes afstaan aan die dood. Mag die Here julle troos met julle verlies, en mag julle haar eendag “weer” sien in haar hemelse tuin.

Nettie ·

Sjoe. Mens se hart pyn vir hierdie gesin. En sy’s nou saam met haar boeties? Hoeveel dood en hartseer het hierdie gesin nie al beleef nie. Mag God hulle, die Pappa, Mamma en veral die klein sussie STYF in Sy arms vashou en dra deur hierdie moeilike dae. Tot die Wedersiens.

Helena ·

Sjoe…. 3 kinders AL afgestaan? Baie erg! Kan net indink hoe voel die Moeder!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.