Verligting by brandstofpompe wink dalk

(Grafiek: pixabay)

Daar is hopelik verligting vir vuisvoos motoriste wat steier onder die duurste brandstof nóg.

Groter bestendigheid in internasionale petroleummarkte en ʼn sterker wisselkoers kan verbruikers ʼn blaaskans gee.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê huidige data wys ʼn moontlike daling van 32 sent per liter vir die prys van diesel. Die nuus vir petrol lyk in hierdie stadium minder goed. Die AA voorspel ʼn effense styging van ses sent per liter. Die prys van paraffien sal na verwagting met naastenby 27 sent daal.

Die AA grond sy vooruitskattings op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds.

Die sterker wisselkoers kan die petrolprys dalk net die nodige hupstoot gee en wel later ʼn daling tot gevolg hê.

“As die huidige neiging voortduur, kan daar dalk deur die bank verligting van vlaag prysstygings teen maandeinde wees.”

Die AA sê die rand verstewig sedert die middel van verlede maand en is bykans 50 sent sterker teenoor die Amerikaanse dollar.

Internasionale petroleumpryse was in hierdie tyd boonop meer bestendig.

Die AA het ook weer gevra vir ʼn hersiening van die brandstofprysstruktuur en -heffing.

Die AA sê goedkoper brandstof gaan nie met die druk van ʼn knoppie gebeur nie, maar vereis ʼn omvattende en multi-departementele benadering in samewerking met die private sektor.

Willem Groenewald, uitvoerende hoof van die AA, het Woensdag in ʼn voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne en energie gesê daar moet dringend na die samestelling van die brandstofprys gekyk word. Groenewald sê alle berekenings wat met die brandstofprys verband hou moet geoudit word om te verseker dit is steeds tersaaklik en gepas vir Suid-Afrikaanse omstandighede.

Benewens die fokus op die brandstofprys self, sê Groenewald behoorlike navorsing moet gedoen word oor elke element in die brandstofwaardeketting wat bydra tot die prys. Indien bevind word enige van dié elemente is te duur, moet alternatiewe gevind word.

“Elke sent wat gevra word moet geregverdig wees.”

Suid-Afrika se brandstofprys het vandeesmaand ʼn rekordhoogte bereik en die AA het verskeie sleutelaanbevelings gedoen oor maatreëls wat die immer stygende koste van brandstof kan stuit.

Dit sluit in ʼn ondersoek na die bestaande prysstruktuur, ʼn herberekening en oudit van alles wat in die brandstofprys ingesluit word, ʼn verlaging in die bydrae tot die Padongelukfonds (POF), ʼn beter toewysing en gebruik van geld in die algemene brandstofheffing en ʼn belegging in alternatiewe vir die land se bestaande afhanklikheid van brandstof.

Groenewald sê indien ʼn beter prysmodel beskikbaar is as die een wat tans gebruik word, moet dit oorweeg word.

Hy sê die algemene brandstof- en POF-heffing dra beduidend by tot elke liter brandstof wat verkoop word, maar verbruikers sien nie die voordeel wat voortspruit uit dié belasting nie.

Die brandstof- en POF-heffing beloop saam R6,11 van die algehele brandstofprys. Daar is egter heelwat vrae oor hoe dié geld aangewend word. Miljarde rande word in die POF gestort, maar dit word swak bestuur en tap die land se hulpbronne, sê Groenewald. Benewens die swak bestuur van die fonds moet daar ook gekyk word na alternatiewe maniere om slagoffers van padongelukke te vergoed.

Nog ʼn omstrede kwessie is padveiligheid. In 2015 het padongelukke die ekonomie na raming sowat R150 miljard gekos. Groenewald sê daar moet egter groter klem wees op die bestuur van eise – en die voorkoming van die behoefte aan vergoeding.

“Ons word belas om slagoffers van padongelukke te vergoed, maar niks word gedoen om die ongelukke te voorkom nie. Dieselfde geld vir die brandstofheffing: Geld word ingesamel, maar daar is min bewyse van die goeie bestuur in die toewysing of gebruik daarvan.

“Burgers vra met reg hoekom moet hulle soveel opdok as hulle nie die resultate sien van dit waarvoor hulle betaal nie. Dit is onbillik,” sê Groenewald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johnny ·

Kan iemand vir ons verduidelik hoe die prys van diesel kan daal terwyl petrol s’n styg? Dit kom tog uit dieselfde olie?

Keith ·

These are the questions which the AA should get answers for:
Why are our pump prices based on brent crude oil price when our petrol and diesel IS manufactured by SASOL , from coal ? What percentage of our petrol consists of alcohol and liquified gas ? When is the government going to move away from its corrupt “once a month” pricing strategy ?
When is government going to de-regulate price control of petrol ? If not why not ?
Why are we supplying our neighbouring states with cheaper petrol ?
The wool is being pulled over our eyes , big time, and it is time that the truth is made known., especially when it comes to our source of petrol. Someone knows the truth, but no one is telling.

anko ·

Die buurlande betaal nie al die bygevoegde belastings ens ens nie

Johan ·

Keith ons weet wat is die waarheid ons doen net niks daaraan nie. Ek kan onthou in my jong dae is daar belowe as ons Sasol ondersteun sal ons in die toekoms minder betaal vir brandstof. Stop die pad ongelukke fonds geheel en al want meeste persone wat motors besit het medies en versekering. Ek se nou tot 80% persent van die eise word aan Taxi gebruikers uitbetaal.

Keith ·

en boonop het ek in 2002 uitgevind dat taxi-organisasies word gesubsidieer vir elke liter wat hulle lede ingooi. Al wat hulle destyds gedoen het was om hulle petrol kwitansies inhandig by hulle verskei taxi vereenigings om dan op een of n’ ander manier hulle “afslag” te kry. This “theory” was proved to me , when i watched many petroljokkies at different petrol stations , pocketing the slips of clients who didn’t ask for a slip. Then one day, i deliberately didn’t ask for a receipt UNTIL i was about to leave. When i then asked for it, i ended up having an argument with the attendant, and after a while he agreed to give it to me and pulled out a PILE of slips from his pocket to find mine.. There are things going on that people are not aware of. So that’s another question the AA should be asking.

anko ·

Dis ‘n feit dat taxis rebate kry per liter. Luister radio. Stel jou voor hoeveel liters is dit per maand is, skokkend

Aikie ·

Indien daar ooit, OOIT ‘n indiepte audit van die petrolprys en al die belastings gakoppel daaraan, wonder ek hoeveel van elke liter beland onregmatig in die ANC en sy kaders se sakke. Dalk nog’ n klomp wat ‘n Ace Magashule truuk moet trek en na’ n maand moet afstand doen van hulle poste.

Johan ·

ANC,julle kan dit dalk bekostig met reuse salarisse,maar wanneer die armes die strate onbegaanbaar maak,dan val alles plat. Waar is die betogers wat oor die pampoen prys sal toy toy!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.