Vermeende dwelmsmous dood ná TV-program se besoek

(Foto: Facebook/Slc Magoro)

ʼn Vermeende dwelmsmous is dood kort ná ʼn filmspan van die program Sizok’thola – wat op kanaal 157 op DStv uitgesaai word – in samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum, hom oor sy beweerde betrokkenheid by dwelmhandel ondervra het.

Luidens ʼn verklaring van die TV-kanaal Moja Love, het die vermeende dwelmhandelaar Robert “Kicks” Varrie, wat vandeesweek onder geheimsinnige omstandighede gesterf het, hom verset teen die beweerde wettige opdragte van erkende lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) tydens ʼn dwelmklopjag op 19 Julie in Katlehong.

Die verklaring volg ná onthullings deur die Sondagkoerant City Press, wat aanvoer dat die drama om Varrie se dood begin het toe Xolani Khumalo, aanbieder van die program Sizok’thola, sy filmspan en Gautengse patrolleerders, alombekend as amapanyaza, Woensdag op ʼn huis in Katlehong in die suidooste van Johannesburg toegesak het.

“Na voortgesette pogings van lede van die GPF het hy uiteindelik ingestem om die onwettige dwelms wat hy op die perseel weggesteek het, te oorhandig,” sê Moja Love.

Eunice Raadt, Varrie se vriendin wat saam met hom en hul twee kinders gewoon het, het aan City Press gesê dat sy by ʼn nabygeleë salon was toe sy die vloot voertuie in die verbygaan gesien het.

“Ek het baie mense gesien, ook amapanyaza en ʼn kameraspan. Die inwoners was baie opgewonde om vir Khumalo hier te sien.

“Daarna het ek huis toe gejaag en met my aankoms daar my baba buite op die grond aangetref; in die huis kon ek hoor hoe Kicks skree,” sê Raadt.

Volgens Raadt is sy verbied om die huis binne te gaan, maar die deur het effens oopgestaan en sy kon ʼn groep gewapende mans sien wat maskers dra en haar kêrel vashou.

“Varrie se broek was af, en sy onderklere was nat.”

Raadt sê die groep het glo twee sakkies dwelms gevind, maar het aanhou vra dat Varrie die res van die versteekte dwelms ook oorhandig.

“Hulle het toe ’n plastieksak om sy kop gesit en hom met pepersproei gespuit voor hulle hom versmoor het. Terwyl hulle hom vasgepen het, het hulle gesê hy moet sy regterbeen beweeg as hy oor sy beweerde betrokkenheid by dwelmhandel wil bieg.”

Die TV-kanaal sê hy kan bevestig dat die filmspan in die omgewing van die perseel was toe die oorledene ondervra is, maar ondersoek steeds die omstandighede wat daartoe gelei het dat Varrie na die hospitaal gehaas moes word.

“Ons sal wag vir die amptelike lykskouingsverslag oor die oorsaak van dood,” sê Moja Love.

Die kanaal sê hy werk steeds saam met wetstoepassingsagentskappe en saaknommers vir elke program word gedeel en verdagtes aan die owerhede vir verdere ondersoeke en regsprosesse oorgegee.

“Ons sal ook tydens dié ondersoek met owerhede saamwerk en ons betuig ons innige meegevoel met die oorledene se familie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sê maar net ·

Ek stem nie saam met dit wat gebeur het nie, dit is blatante moord. Al was hy skuldig, mens mag nie die reg in eie hande neem nie. Dit was seker erg traumaties vir sy geliefdes….

Stofdonkie ·

Ongelukkig in vandag se dae met die tekort aan polisie-lede moet mense maar reg in eie hande neem net om te keer dat hulle hele buurt onder misdaad verval

Amelia ·

en hoeveel lewens het ht verwoes as hy by dwelmhandel betrokke was miskien moet eers daarna gekyk word voor enige iets verder ges word

JohanR ·

As hy se ‘n loodgieter geword het sou hy vandag nog lewe. Maar hy het mense se lewens verwoes met dwelms.

Hendrik ·

Behalwe die dood van menigde is daar ook lewens verwoes. Mense wat geen toekoms het nie
Wees dankbaar die wereld is skielik n beter plek.

Anel ·

Hier kom ‘n ding! Was daar SAPD ledevteenwoordig? Gpf lede dink deesdae hulle is die polisie en maak net wat hulle wil. Wil tot vir die polisie sê wat om te foen. Ek petsoonlik jaag so ‘n persoon van my erf weg. Sterkte aan die familie. In elke geval maak dit nie saak wat hy gedoen het nie, moord bly moord!

Lyon ·

Jy moet jou tuin skoonhou of die gemors gaan jou versmoor – ons huil eerder oor klein bossies as om te besef jou eie lewe en die van jou kinders en jou land is op die spel as dit kom by satan se vernietiging van mense en families, nie een dag was hy of sy familie bekommerd oor die welstand van myne nie. Nee wat my meegevoel laat my beter voel dankie, Ek voel ek het n plig teenoor wat reg is om stabiliteit en versekering terug te bring, Nie om op satan se tee lys te wees nie.

Lillian ·

GPF, géén tyd vir dié lot nie. Dink hulle ís die polisie terwyl hul net mooi niks weet nie! Ek hoop hulle word almal aangekla en vervolg want dié was blatante moord!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.