Twee verdagtes, onderskeidelik 18 en 19 jaar oud, is Vrydag in Umlazi, KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord en poging om ʼn motor te kaap.
“ʼn Polisiebeampte het in Bananaweg gery toe ʼn slagoffer hom voorgekeer het wat glo gekaap is,” het maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. ‘Terwyl die beampte met die slagoffer gepraat het, het die verdagte op die beampte geskiet en die beampte het uit selfverdediging teruggeskiet en twee verdagtes gewond.”
Lede van die gemeenskap het tot die polisiebeampte se redding gekom en gehelp om die twee verdagtes aan te keer. Die verdagtes is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling. Hulle sal in die Umlazi-landdroshof verskyn sodra hulle ontslaan is.