Vermeende reeksmoordenaar verskyn in Limpopo-hof

Themba Prince Willards Dube (Foto verskaf deur die NVG)

Die vermeende reeksmoordenaar, Themba Prince Willards Dube (36) van Zimbabwe, het Maandag in die Seshego-landdroshof verskyn vir ʼn rits moorde op vroue. Hy staan tereg op sewe aanklagte van ontvoering en sewe aanklagte van moord.

“Hy is aanvanklik op 3 November in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn vermoedelik gesteelde selfoon wat aan ʼn vrou behoort het wat verlede maand in Lebowakgomo ontvoer is,” sê Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag. “Hy het vir die eerste keer op 5 November in die hof verskyn op aanklag van roof en ontvoering. Sy modus operandi was om vroue te lok en vir hulle werk te belowe.”

Die beskuldigde was nog in aanhouding toe beamptes op sewe vroue se oorskot afgekom het in Seshego, Polokwane, Mankweng en Westenburg.

Die volgende slagoffers is positief uitgeken deur hul naasbestaandes. Forensiese ondersoeke duur egter voort.

  • Sarah Moitswadi Mathiba (42) wat verlede maand in Lebowakgomo ontvoer is
  • Moleboheng Mothibeli (34) van Lesotho wat in Oktober 2021 in Polokwane as vermis aangemeld is
  • Eva Khomotso Makhura (41) wat in Oktober 2021 in Seshego as vermis aangemeld is
  • Mpho Sanah Sinyatsi (34) wat in Oktober 2021 in Seshego as vermis aangemeld is
  • Andrea Cholo (25) wat in September 2021 in Seshego ontvoer is
  • Chisimango Gumbo (48), ʼn uitlander, wat in Augustus 2021 in Seshego ontvoer is
  • Jane Letswalo (42) wie se liggaam langs die Peter Mokaba-stadion gevind is.

“Die polisie se ondersoek duur voort om te bepaal of die verdagte moontlik met ander sake verbind kan word. Ons doen ʼn beroep op enigiemand met ʼn vermiste familielid van Seshego, Mankweng, Lebowakgomo, Polokwane en omliggende gebiede om hul naaste polisiestasie te kontak.”

Die saak is tot 27 Januarie 2022 uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ES ·

Wat ‘n siek man, verwyder maar uit die samelewing, hy sal definitief nie gemis word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.