Vermeende rowers met duisende rande se buit betrap

Drie vermeende rowers is agter tralies en buit van duisende rande is gevind nadat hulle Donderdagoggend in Mokopane (Potgietersrus) tydens intelligensiegedrewe operasies opgespoor en in hegtenis geneem is.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die polisie op Mokopane het inligting oor vier buitelanders opgevolg wat glo by talle voorvalle van inbraak en rooftog by sakeondernemings in veral die Mokopane-nywerheidsgebied betrokke is.

“Die polisie het drie verdagtes, onderskeidelik 25, 33 en 37 jaar oud, in die Sekgakgapeng-nedersetting net buite Mokopane by hul woonplekke vasgetrek,” sê Ledwaba.

Die polisie het ook die eiendomme deursoek en afgekom op vermoedelik gesteelde items ter waarde van duisende rande.

“Die buit sluit onder meer in twee plasma-TV’s, agt voertuigbatterye, ʼn kragopwekker, twee sweismasjiene, vier slypmasjiene, vier boormasjiene, 11 paar veiligheidstewels, twee fakkelligte en ʼn geslotekringtelevisiekamera ter waarde van R200 000,” sê Ledwaba.

Die items waarop beslag gelê is, is verbind met verskeie misdaadvoorvalle by ondernemings wat in Maart en April by die Mokopane-polisie aangemeld is.

“Ondersoeke toon dat ander gesteelde besittings reeds deur ʼn oorgrensafleweringsvragmotor na die vermeende rowers se gesinne in Zimbabwe gestuur is.”

Die drie sal na verwagting binnekort in die Mokopane-landdroshof verskyn op aanklagte van roof, diefstal, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en die oortreding van immigrasiewetgewing. Hulle is glo onwettig in Suid-Afrika.

Genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die polisie vir die deurbraak geloof.

Die polisie is steeds op soek na die vierde vermeende betrokkene.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Bester en kie het mos bewys jy kan oorgrens gaan sonder die nodige dokumente, seker hier ook die geval.

Anel ·

Wat is ‘n onwettige immigrant? In ons land bestaan dit mos nie! Almal is mos geregte om hierheen te kom en te maak net wat hulle wil!! Die lot het op die ou einde meer regte as hierdie land se eie burgers. Maak ons grense reg en oefen behoorlike grens beheer toe!!!!
Mooi so asn die polisie wat die lot gevang het. Laat zim hulle hier in die tronk onderhou, nie ons belastingbetalers nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.