Vermiste kop ná maand in rivier gevind

‘n Polisieduiker by die Namahadi-rivier in die Vrystaat. (Foto: Verskaf)

Waarskuwing: Die inhoud van die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die kop van ʼn jong man wie se onthoofde liggaam meer as ʼn maand gelede in die Vrystaat gevind is, is die naweek uiteindelik in die Namahadi-rivier nie ver van Phuthaditjhaba nie gevind.

Twee verdagtes is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die moord en het die kop in die rivier aan die owerhede gaan uitwys.

Ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê ʼn soektog is al Vrydag van stapel gestuur en die kop is Saterdag in die water gevind.

Die twee verdagtes, tussen die ouderdom van 24 en 28 jaar oud, sal na verwagting binnekort in die Phuthaditjhaba-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Mophiring sê die jong man se onthoofde liggaam is reeds verlede maand gevind. Die liggaam was “onherkenbaar verbrand”.

Die familie van die man het sedertdien geweier om hom ter ruste te lê totdat die kop gevind is.

Die polisie in Phuthaditjhaba se eenheid vir openbare orde, die polisiekultus-ondersoekeenheid, die Namahadi-polisie, die Phuthaditjhaba-redding- en duikeenheid en die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit se brandweer het almal saamgewerk om die kop uit die water te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Plaaskind ·

Skokkend dat die jong mense deesdae die wreedste misdadigers is nie. Polisiehoof en sekere politieke leiers moet hiervoor blameer word. Geen straf en aanhitsing tot geweld is mos deesdae aanvaarbaar in ons eens mooi SA. Baie hartseer dat dit so wrede land geword het.

Vanessa ·

Ek stem saam, daar is geen wet en orde in die land nie. Een van die gevaarlikste lande om te bly. Mens word oorgelaat aan jou eie genade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.