Vermiste man in see gevind

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Liggaam wat Donderdag in die see by Oubaai in die Wes-Kaap gevind is, is vermoedelik dié van ’n man wat vroeër as vermis aangemeld is.

Die plaaslike man het na bewering Woensdag langs die kuslyn gaan stap, maar nooit weer teruggekeer nie. Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Wildernis en Mosselbaai is na Oubaai ontbied om die polisie en plaaslike nooddienste in die soektog na die man by te staan.

George se brand- en reddingsdienste het ’n hommeltuig ingespan terwyl ’n private helikopter ook help soek het.

“Die NSRI-spanne is ontbied om nooddienste langs die kus te help soek. Twee NSRI-reddingsbote van Wildernis en een van Mosselbaai is ontplooi.

“Terwyl die reddingsbote die toneel genader het, is inligting ontvang dat die liggaam van ’n man in ’n rotsagtige gebied in die branders langs die kus gevind is,” het die NSRI gesê.

Die man se liggaam is op die reddingsboot gelaai en na die NSRI-stasie in Mosselbaai geneem. Vandaar het die polisie en die provinsiale forensiese patologie-dienste oorgeneem.

“Dit word sterk vermoed dat die liggaam dié van die vermiste man is.

“Die polisie het met ʼn geregtelike doodsondersoek begin. Ons medelye gaan uit aan die familie van die oorlede man.”

Nog ’n liggaam is Donderdag omstreeks 13:30 in die water langs die kus by Fransmanshoek naby Vleesbaai gevind. Die liggaam het uitgespoel.

Die man is op die toneel dood verklaar en sy liggaam is deur die NSRI na Vleesbaai geneem waar die polisie en patologiedienste ontbied is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Delia ·

Vermiste man se liggaam gevind….hoofopskrif moet dalk so lei. Hy leef dan nie meer

Sheena ·

Baie sterkte aan al die Heyns familie. Julle is in ons gebede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.