Vermiste voëls ná bakkievrag-kaping opgespoor

Die meeste van die vermiste eksotiese voëls is op die swartmark teruggekoop (Foto: Verskaf)

Die meeste van die eksotiese voëls wat verlede week Maandag op die N1 net buitekant Johannesburg tydens ’n kaping gesteel is, is opgespoor. Die voëls se waarde beloop sowat R700 000.

Só vertel private speurder Mike Bolhuis, wat verlede week dié saak begin ondersoek het. Hy kon teen Woensdag reeds die helfte van die besending voëls in en m Soweto opspoor.

Bolhuis en sy span het 81 van die African Grey-papegaaie en agt van die Blue-fronted Amazon-papegaaie op die swartmark teruggekoop. “Weens die voëls se welstand en om hulle lewendig terug te kry, het ons geen ander keuse gehad as om hierdie roete te volg nie,” sê Bolhuis.

Bolhuis vertel hulle het die voëls teen R100 elk teruggekoop. “Eksotiese voëls soos hierdie kan tot R4 000 elk kos.”

Soos vroeër berig is ’n Toyota-dubbelkajuitbakkie gekaap op pad na die Internasionale Lughawe OR Tambo om 124 African Grey-papegaaie, nege Blue-fronted Amazon-papegaaie en een medium sulphur-crested cockatoo (kaketoe) na Dubai uit te voer. Die voëls het aan Herman van Rooyen, die eienaar van SA Birds in Greytown in KwaZulu-Natal, behoort.

Die bestuurder van die bakkie is deur ’n onbekende voertuig met blou ligte van die pad af gedwing. Die mense in die voertuig het hulle as polisie voorgedoen en die bestuurder oorrompel en ’n sak oor sy kop getrek. Hy is later in die middel van Soweto afgelaai waar hy toe Van Rooyen van die kaping verwittig het.

Die meeste van die vermiste eksotiese voëls is op die swartmark teruggekoop (Foto: Verskaf)

Bolhuis en sy span kon daarin slaag om verlede week Maandag die gesteelde dubbelkajuit-Toyota-bakkie met behulp van ’n satellietopsporingstelsel in Soweto op te spoor. “Ons het die bakkie se roete gevolg en gesien waar die kapers gery en stilgehou het. Só kon ons ook diegene identifiseer wat in besit was van die voëls. Hulle sal ons weer kan lei na die kapers.”

Volgens Bolhuis is nog niemand in hegtenis geneem nie. “Ons wou eers seker maak ons kry die meeste voëls terug voordat ons voortgaan om strafregtelik op te tree.”

Hy waarsku die publiek weereens om nie enige dier aanlyn of op straat te koop nie. “Jy moet seker maak jy het behoorlike agtergrondinligting oor die dier en waar dit vandaan kom.”

Bolhuis ondersoek die kaping van die bakkievrag en ontvoering van die bestuurder. Hy ondersoek ook die besit en die onwettige handeldryf van die gesteelde voëls.

Volgens Bolhuis moet mense hul oë oophou vir kaping, veral tydens die komende feesseisoen.

“Mense moet seker maak hulle kies altyd die veiliger roete en moet ten alle tye obskure plekke vermy. As hulle vragte gaan aflaai, moet die nodige reëlings getref word om die veiligheid van die bestuurder ten alle tye te verseker. Stuur veiligheidswagte saam met die vrag indien dit duur goedere is. Maak ook seker die nodige opsporingstoestelle is op jou foon en voertuig geïnstalleer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bees ·

Ag blue fronted Amazons is teruggekry, maar daar was oorspronklik net sewe wat uitgevoer was? Dit is n bargain! Ek hoop die smouse word ook in hegtenis geneem.

Anja van der Merwe ·

Dagsê Bees

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Daar was aanvanklik 9 Blue-fronted Amazons. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Pollie ·

Sal baie hartseer wees indien een van die voels in sekere mense se hande beland. Ek hoop regtig hulle kry almal terug.

Ronel ·

EK HOOP WERKLIK HULLE KRY ANDER OOK.. OF DAT DIE VOËLS WONDERBAARLIK ONTSNAP. ALS GAAN MOS OOR GELD DEESDAE!

Blommie ·

Sien bo in en M Soweto opgespoor. Moet seker se OM.
Die klink na n inside job…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.