Vermiste Vrystater veilig

David Bernardus Enslin (Foto verskaf deur SAPD Vrystaat)

David Bernardus Enslin (63) van Merriespruit in die Vrystaat wat Donderdag vermis geraak het, is ongedeerd en veilig. Hy het sy familie Dinsdag laat weet, maar nie uitgebrei oor waar hy hom bevind nie.

Hy het vir sy familie ʼn boodskap gestuur en gesê “hy is by ʼn vriend en hulle moet nie bekommerd wees nie”, het Enslin se suster, Christina Korff, aan Maroela Media gesê.

Enslin het Donderdag omstreeks 07:30 vir Korff se man, Jurie, gesê hy gaan gou bank toe. Enslin woon al meer as vier jaar by die Korff-egpaar en is ʼn pensioenaris.

“Ons het gedink hy gaan sommer na die kitsbank by die vulstasie. Dit is glad nie vreemd nie, want hy gaan gewoonlik soggens te voet kafee toe om sigarette te koop,” vertel Korff.

Ná 11:00 het Korff egter begin bekommerd raak toe haar broer nog nie sy opwagting gemaak het nie.

“Hy bly gewoonlik nooit so lank weg nie.”

Sy het hom gebel, maar die foon het net gelui. Sy het weer gebel waarna die foon na stempos oorgegaan het.

“Ek het verskeie kere daarna gebel, maar die foon het elke keer na ʼn stemboodskap oorgegaan.”

Korff het haar broer Vrydagoggend weer probeer bel en boodskappe gestuur, maar het helaas steeds niks van hom gehoor nie.

Sy het hom daarna as vermis by die polisie aangemeld.

Enslin se familie was oor die naweek “erg bekommerd” oor hom.

“Ek het in die nagte wakker gelê en vrae oor my broer het deur my kop gemaal. Is hy warm toegemaak? Het hy kos? Lê hy dalk in die veld?”

Enslin het sy familie egter Dinsdagoggend gekontak en gerusgestel dat hy veilig is.

“Hy wou egter nie sê waar hy is nie.”

Volgens Korff is sy verlig dat Enslin veilig is, maar in dieselfde asem, sê sy, sy is vies dat hy hulle nie vooraf ingelig het dat hy vir ʼn paar dae weggaan nie.

“Ek het die dorp vol gery en rondgebel op soek na hom.”

Korff sê Enslin het voor sy verdwyning normaal opgetree en hy het nog nooit in die verlede net verdwyn nie.

“Hy ly ook nie aan enige geestestoestande of siektes nie, so ek verstaan nie waarom hy net verdwyn het, sonder om iets te sê nie.”

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die familie die polisie ingelig het oor die boodskappe wat Enslin aan hulle gestuur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amelia ·

dit klink nie vir my reg nie as hy bv ontvoer is en gedwing word om te se hys ok nee dink soek eerder verder

Dandeleen ·

Watter soort boodskap wonder ek, ‘n stem boodskap (wat iemand hom kon dwing om te stuur) of ‘n text wat iemand namens hom kon stuur, wat as die persoon die mense ken en nie wil hê dat hulle moet soek nie,? Iets is erg verkeerd hier.

Anel ·

Enige persoon kan ‘n getikte boodskap stuur. As jy nie fisies met die persoon gepraat het nie, sou ek nie sê dat hy op gespoor is nie. Hy het nie klere gepak nie. Dit is ook nie sy gewoonte om net te verdwyn nie. Iets is nie reg hier nie. Ek sou dit nog laat ondersoek!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.