Verpleegsters, wagte by kliniek beroof

Rowers het om 01:30 op die Sambandou-kliniek toegeslaan. (Foto: Google)

Vermeende rowers het Maandag in die vroeë oggendure op ʼn kliniek in Limpopo toegesak en die fasiliteit se veiligheidswagte en verpleegsters beroof nadat hulle geen ander waardevolle items kon vind nie.

ʼn Span ondersoekers gelei deur ʼn senior beampte is intussen aangestel om die voorval by die Sambandou-kliniek in die Vhembe-distrik te ondersoek.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê drie verdagtes het na bewering om 01:30 oor die kliniek se heining geklim en die wagkamer binnegegaan.

“Die verdagtes het hul vuurwapens op die veiligheidswagte wat aan diens was gerig en hul pistole geëis. Hulle kon egter nie die wagte se vuurwapens kry nie en het toe hul selfone gebuit,” sê Mojapelo.

“Die verdagtes is na die kliniekgebou waar hulle die verpleegsters se selfone, geld en een van die personeellede se motorsleutels gebuit het. Die verdagtes het in die betrokke personeellid se Toyota Fortuner op die vlug geslaan.”

Niemand is tydens die voorval beseer nie en geen pasiënte is skynbaar deur die vermeende rowers geteiken of leed aangedoen nie.

Die polisie is kort ná die voorval na die toneel ontbied en ʼn soektog na die verdagtes is van stapel gestuur. Die gekaapte voertuig is later verlate in ʼn gebied genaamd Vyeboom in die provinsie gevind.

Die ondersoekspan, wat deur lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, saamgestel is, het tot dusver geen van die verdagtes opgespoor nie.

Hadebe het nietemin hierdie voorval sterk veroordeel.

“Enige aanval op ʼn gesondheidsfasiliteit vereis voldoende en vinnige reaksie om te verseker dat die oortreders vasgetrek word,” sê sy.

“Ons doen ʼn beroep op lede van die gemeenskap wat enige inligting het wat kan help met die ondersoek om na vore te kom.”

Enigiemand met inligting in verband met hierdie rooftog kan die ondersoekbeampte in die saak, sers. Thulani Baloyi, by 072 228 2680 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Waarnemer ·

Hulle is oor die grens….gaan daardie selfone verkoop aan die volgende onwettige immigrant wie SA binne kom.

Tokkel ·

En cele sê die verhouding tussen boere en sy werknemers is nie goed nie, nou wat is hierdie dan?
Plain en simpel, meneer Cele begin jul werk doen dan sal daar nie so baie crime wees nie. Kaders gaan nie help die land red nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.