Verpligte entstowwe ‘skend studente se regte’

Die Universiteit van Kaapstad. (Argieffoto)

Solidariteit Jeug sê hy sal nie skroom om namens sy lede stappe te doen teen enige universiteit wat poog om Covid-19-inenting verpligtend vir studente te maak nie.

Dit volg nadat die Universiteit van Kaapstad (UK) vroeër die week ʼn voorstel gemaak het om inentings teen Covid-19 by die universiteit verpligtend te maak.

Luidens die voorstel sal ʼn bewys van inenting as voorvereiste dien vir elke student wat volgende jaar vir studie aan die UK wil registreer. Hierdie reëling sal ook van toepassing wees op personeellede.

Die UK het ʼn opname aan studente en personeel gestuur om hul mening oor dié saak te bekom. Meer as 130 professore en akademici het reeds aangedui dat hulle hierdie voorstel steun.

Volgens Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug, is die voorstel egter diskriminerend.

“Staatsuniversiteite se doel is om tersiêre studie vir almal in die land toeganklik te maak. Deur entstofpasse by hierdie instellings in te stel ontneem universiteite sekere studente en voornemende studente die reg om onderrig te kan ontvang. Hulle ken ook meer regte aan ander toe op grond van daardie studente se mediese toestand. Hierdie growwe skending van regte kan onder geen omstandighede toegelaat word nie,” sê Maritz.

Volgens Maritz steun Solidariteit Jeug aansporings wat studente sal motiveer om ingeënt te word, maar nie regulasies wat mense se regte inperk nie. Hy voer aan dat geen demokratiese land entstowwe summier sal verplig nie, omdat dit algehele weerstand teen inenting sal verhoog en die doeltreffende uitrol daarvan sal kelder. Die reg van vrye keuse moet ook ten alle koste beskerm word.

“Dit is skokkend dat daar ʼn veronderstelling is dat jong mense toegang tot hoëronderwysinstellings geweier sal kan word op grond van hul inentingstatus, veral in ʼn land waar jeugwerkloosheid reeds die hoogste ter wêreld is. Die regering moet alles in sy vermoë doen om universiteite en ander tersiêre instellings so toeganklik as moontlik te maak, eerder as om studente die perseel te belet.”

Maroela Media het vroeër berig die South African Parastatal and Tertiary Institutions Union (Saptu) het Woensdag gesê hy is ook nie ten gunste van die universiteit se voorstel nie.

Die vakbond glo studente en personeel behoort die keuse te hê om die inenting van die hand te wys, sonder om daaroor gestraf te word. Die vakbond dring voorts daarop aan om ingesluit te word by samesprekings by tersiêre instellings oor die voorgestelde verpligte inentingsbeleid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.