Verswakte hondjie net betyds uit rommel gered

Die hondjie is reeds op die herstelpad. (Foto: Verskaf/Mdzananda-dierekliniek)

’n Skattige, drie maande oue hondjie is van ʼn byna gewisse dood by ʼn stortingsterrein gered en is reeds op die herstelpad.

Marcelle du Plessis, fondsinsameling- en kommunikasiekoördineerder by die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha, sê die organisasie se diere-ambulans was reeds in die omgewing besig om diere in nood te behandel.

“ʼn Groep werkers van die Stad Kaapstad het die ambulans voorgekeer nadat hulle by ʼn stortingsterrein aangekom het en die uitgeteerde hondjie daar aangetref het.”

Volgens Du Plessis is die hondjie dadelik na die dierekliniek vir behandeling gehaas. ʼn Deeglike mediese ondersoek het bevestig sy het brandsiek en ly aan ernstige wanvoeding.

Die hondjie is dadelik na die dierekliniek vir behandeling gehaas (Foto: Verskaf/Mdzananda-dierekliniek)

“Die hondjie, wat nou Nala gedoop is, ontvang tans behandeling vir brandsiek en kry ook vitamienversterkers en pynmedikasie.

“Sy het ook ʼn ontwurmingsmiddel, vlooi- en bosluisbehandeling en alle nodige inentings ontvang,” sê Du Plessis.

Heidi May, uitvoerende hoof van die Mdzananda-dierekliniek, sê toe Nala by die kliniek aangebring is, “het dit gelyk of sy reeds opgegee het”.

“Maar toe sy eers liefde en sorg van ons personeel ontvang, het Nala veggees begin toon.”

Die hondjie is gebad, het ʼn voedsame maaltyd ontvang en sterk nou aan in die kliniek se hospitaal.

Die hondjie is gebad, het ʼn voedsame maaltyd ontvang en sterk nou aan in die kliniek se hospitaal. (Foto: Verskaf/Mdzananda-dierekliniek)

Lynton Adams, operasionele bestuurder by die kliniek, sê Nala is glad nie aggressief nie, maar saggeaard en liefdevol. “Dit is hartverskeurend om haar in hierdie toestand te sien, tog koester sy geen haat teenoor mense nie. Sy ontvang steeds behandeling, maar is amptelik in ons program vir hawelose diere opgeneem en is gereed vir aanneming,” sê Adams.

  • Kontak die Mdzananda-dierekliniek by 021 367 6001 vir meer inligting.

(Foto: Verskaf/Mdzananda-dierekliniek)

(Foto: Verskaf/Mdzananda-dierekliniek)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Delia ·

Ek het nie woorde. Sal haar graag wil.aanneem, maar bly in Gauteng. Kyk net daai ogies!!

Jack ·

Hemel hoekom doen mense dit met diere ?? Die diertjie LEWE en kan nie praat nie.Dit is nie vullis nie.Hy vertrou op mense om hom te versorg en liefde te gee.Die mense gee NIKS om vir ‘n lewe nie veral diere nie.Wens ek kon hom gaan haal.Hoop hy kry ‘n wonderlik huis.

Olive ·

O tog dit is so sad. Party is eenvoudig te wreed en onbevoeg om na diere om te sien. Mag die wat sulke dinge kan aanvang, dieselfde oorkom.

Di ·

Dit laat my bloed kook as mense diere aanskaf waarvoor hulle NIE kan sorg nie. Die meeste van hierdie diere lewe in haglike omstandighede in nederstettings. Word dag en nag aan kettings gehou sonder enige beskutting teen koue en hitte. Hierdie tipe moet NIE toegelaat word om ENIGE dier aan te hou nie.

Oosieoos ·

Hoop sy kry a engel eienaar waar sy as a familie lid behandel sal word

Janee ·

Ag…sy gaan pragtig word…en ek sou haar sommer slappie genoem het met die slap oortjie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.