Vervalle selle glo rede vir Koster-ontsnapping

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Die departement van gemeenskapsveiligheid en vervoer in Noordwes het erken die Koster-polisiestasie, waar 12 verhoorafwagtende gevangenes verlede maand ontsnap het, voldoen nie aan standaarde om die gemeenskap te dien en beskerm nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn grootskaalse soektog is op 13 Julie van stapel gestuur nadat die gevangenes vroegoggend uit die aanhoudingselle ontsnap het. Tien van die gevangenes is terug agter tralies, terwyl die soektog na nog twee voortduur.

Die ontsnaptes het deur ʼn gat in ʼn muur na vryheid geklouter.

Freddy Sonakile, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid en vervoer in Noordwes, sê die departement het in ʼn verslag in antwoord op ʼn vraag van die party gesê gevangenes het reeds in 2017 ses aanhoudingselle beskadig. ʼn Enkele bruikbare sel het oorgebly.

“Die verslag beweer voorts dat verskeie versoeke aan die provinsiale polisie en departement van openbare werke om die selle te herstel, op dowe ore geval het,” het Sonakile gesê.

“Weens die oorbevolking [in die selle] het die stasiebestuur self die selle reggemaak, maar ongelukkig het swak vakmanskap veroorsaak dat die 12 gevangenes maklik deur die muur kon breek.”

Sonakile sê die Koster-polisiestasie is een van talle landelike polisiestasies wat die stryd teen misdaad weens ʼn gebrek aan hulpbronne verloor.

Die DA gaan nou die kwessie onder die ministers in die veiligheidsgroepering se aandag bring sodat geld beskikbaar gestel kan word om die probleem te pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Wat verwag mens na 25 jaar met Anc en hulle skoothondjies die eff.

Scalla ·

So hul weet al drie jaar van die probleem, swak verskoning.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.