Verwer gou gevonnis wat polisieman vermoor

Anthony Swarts in die hof. Foto: SAPD

Anthony Swarts in die hof. Foto: SAPD

Die polisie in Grahamstad in die Oos-Kaap was verheug oor die spoedige ondersoek en vervolging van die man wat hul kollega, ao Albie Julius, in Augustus vanjaar vermoor het.

“Anthony Swarts (32) is Dinsdag tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van moord en roof met verswarende omstandighede,” het kapt. Luvuyo Mjekula, woordvoerder van die polisie, gesê. Die plaaslike verwer het in dieselfde hof skuld beken. “Hy het erken hy het doelbewus Julius (48) van sy selfoon en R1 500 kontant beroof voor hy hom met ʼn skerp voorwerp doodgesteek het.”

Julius se liggaam is op 6 Augustus 2016 in die bosse naby Sun City gevind. Hy het verskeie steekwonde in sy bolyf gehad.

Regter Nomathamsanga Beshe het tydens haar vonnisoplegging gesê sy kan nie enige wesenlike of dwingende omstandighede vind wat haar laat afwyk van die minimum voorgeskrewe vonnis nie.

Terwyl sy haar vonnis voorgehou het, het Julius se familie, insluitend sy vrou en lede van die gemeenskap, hande geklap in die galery.

“Julius, wat as ʼn gerespekteerde en geliefde lid van die gemeenskap beskryf word, het die Grahamstad-gemeenskap geskud. Lede van die gemeenskappe van Hooggenoeg, Sun City en Ghost Town, het tydens Swarts se vorige verskynings voor die landdroshof betoog,” het Mjekula bygevoeg.

Brig. David Kanuka, bevelvoerder van die polisie in Grahamstad, het die polisiebeamptes geloof vir hul vinnig ondersoek en om die saak af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KarooKlong ·

Verhaal met goeie einde. Puik diens SAPD Grahamstad en ander betrokke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.