Veteraan-omroeper (98) sterf

Monica Breed. (Foto: www.breedt.co.za/Kobus Breedt)

Die veteraan-omroeper Monica Breed is Dinsdag weens orgaanversaking dood. Sy was 98 jaar oud.

Breed was ʼn baanbreker- Afrikaanse omroeper, aktrise en skrywer van kleuterprogramme en hoorbeelde, wat in 1947 een van die eerste omroepers van die Afrikaanse radiodiens van die SAUK geword het.

Sy is gebore Wilhelmina Monica Breed op 28 Maart 1923 op Reitz in die Vrystaat as een van vyf kinders.

Sy het op Reitz matriek behaal en het verder studeer aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys waar sy ʼn BA-graad en ʼn Unie-onderwysdiploma behaal het.

In 1962 het sy die organiseerder van die dramadepartement van die Afrikaanse Diens van Radio Suid-Afrika geword. In dié tyd was sy nou betrokke by die afrigting van en deelname aan toneelspel vir die radio, asook vir die verhoog met teatergroepe in Bloemfontein, Kaapstad en Durban.

As aktrise het sy rolle vertolk in rolprente soos Die huis op horings en Die vlindervanger. Sy het in die televisiereeks “Phoenix en Kie” verskyn. Sy was ook die stem van Piet Muis in Verna Vels se Haas Das se Nuuskas.

Nic de Jager het dié foto op Facebook gedeel. Agter van links na regs: Johan Stemmet, Esmé Mittner, Fanus Rautenbach, Hans Sittmann en June Sittmann (Seymour). Middel: Verna Vels en Magriet Stemmet. Voor: Nic de Jager, Kitty Albertyn van die Vineyard-hotel en Monica Breed. (Foto: Facebook/Nic de Jager)

Sy het in die 1980’s uitgetree ná ʼn loopbaan van ongeveer 33 jaar by die SAUK. Daarna het sy steeds vryskutwerk gedoen, maar dit is gestaak nadat sy ʼn sigprobleem ontwikkel het.

Nic de Jager, bekende regisseur en omroeper, het Dinsdag op Facebook in ʼn huldeblyk na Breed as een van die “groot geeste van ons radio- en televisiebedryf” verwys.

“Vaarwel, Monica Breed – uitsonderlike gees aan wie se voete ek gelukkig was om te kon sit; programmaker, regisseur, verfynde gees,” het hy geskryf.

Breed, wat geen kinders het nie, het ten tyde van haar dood in ʼn versorgingsoord in Pretoria gewoon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Mag sy sag rus. Sy was ‘n legende en werklik gewild. Simpatie met haar naasbestaandes en familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.