Die VF Plus verwelkom Solly Msimanga se bedanking as burgemeester van Tshwane aangesien hy die DA se premierskandidaat vir Gauteng is “en daarom nie sy onverdeelde aandag aan die mense van Tshwane as burgemeester kon gee nie”.
“As koalisievennoot in Tshwane het die VF Plus nogtans ʼn goeie, funksionele werkverhouding met Msimanga gehad,” sê adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter, “en die party sal daarop aandring dat ʼn bevoegde persoon in sy plek as burgemeester aangestel word om die inwoners van dié metro te dien.”
Msimanga het die aankondiging Vrydag in die DA se hoofkantoor in Bruma in die ooste van Johannesburg gedoen. Hy het gesê hy sal sy bedanking in die eerste twee weke van Februarie afhandel, maar het onderneem om inwoners van die metro se behoeftes intussen steeds voorop te stel.
Alberts sê in Gauteng is die VF Plus, “wat tans vinnige groei ondervind”, die vierde grootste party, naas die ANC, DA en EFF. “Ons sal meewerk om alles moontlik te doen om die ANC se steun tot onder 50% te laat afneem.
“Wanneer dit gebeur, sal kiesers wat vir die VF Plus gestem het, insae hê in die regering van die provinsie en dit sal kiesers loon om eerder dié party se hand te sterk om hul regte te beskerm wanneer hy ʼn regeringsvennoot word.”
Alberts sê dit sal deel uitmaak van die VF Plus se Slaan Terug-veldtog om Gauteng, soos die res van Suid-Afrika, “stabiel en werkbaar te maak tot voordeel van almal in die land”.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
30 Kommentare
Ek hoop die hele DA bedank. Húlle is net so pateties as die ANC. Die stad is besig om teen n helse tempo agteruit te gaan
Ek wil nie weer DA stem nie. My probleem is egter vir wie om te stem. Ek stem nie saam met VF met hul selfbeskikking nie. En COPE maak my net bang. Wie sê dis nie net mooipraatjies nou nie.
Corné, ek verstaan heeltemal wat jy hier sê… en voel presies so…
Ag genade stem dan maar vir die ANC dan loop alles klopdisselboom.
Die VF hoop seker om een van hulle genomineer te kry vir die pos. Julle is hopeloos te bleek.