Video: Diplomaat se vrou in rooftog by Pta-sentrum geteiken

(Foto: Skermskoot uit video)

Die Pakistanse ambassade in Pretoria is bekommerd oor sy diplomate en hul gesinslede se veiligheid nadat gewapende rowers die vrou van een van sy diplomate Woensdag helder oordag by die Brooklyn-winkelsentrum in Pretoria geteiken het.

Fahad Amjad, die ambassade se adjunk- hoë kommissaris, het aan Maroela Media bevestig die vrou was saam met twee personeellede van die ambassade in ʼn swart Mercedes-Benz toe hulle by ʼn uitgang van die winkelsentrum beroof is. Hulle was net op pad om die winkelsentrum te verlaat.

Volgens lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 14:00 plaasgevind.

Kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval wat sedertdien rondgestuur word, wys hoe die vrou, voor in die passasiersitplek, die motorbestuurder en nog ʼn insittende in die motor by die valhek van die uitgang stilhou. Die volgende oomblik ry ʼn wit motor agteruit van die straat se kant na die valhek en versper só die uitgang.

Die beeldmateriaal wys hoe drie mans, almal gewapen, uit die voertuig spring en op die Mercedes afstorm.

“Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen op die bestuurder gerig en geëis dat die persoon die deur oopmaak,” sê Masondo.

Die verdagtes het die insittendes van selfone, juweliersware en geld beroof.

“Geen beserings is aangemeld nie.”

Amjad sê die vermoede bestaan dat die rowers die diplomaat se vrou dopgehou en die rooftog fyn beplan het.

“Volgens ooggetuies het die rowers se motor ʼn paar keer om die winkelsentrum gery en toe vermoedelik by die uitgang gewag totdat die diplomaat se vrou die sentrum wou verlaat,” sê Amjad.

Hy sê die vrou en die diplomaat is erg geskok ná die voorval.

“Ons diplomate gaan graag na die Brooklyn-winkelsentrum vir inkopies en dit is ontstellend om te dink dat hulle nie eens meer daar veilig is nie. En dit nog helder oordag. ʼn Voorval soos hierdie veroorsaak dat ons diplomate nou meer op hul hoede sal wees indien hulle weer na die winkelsentrum moet gaan.

“Die nodige veiligheidmaatreëls moet getref word om soortgelyke voorvalle op ons diplomate te verhoed.”

ʼn Saak van gewapende roof is aanhangig gemaak en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Monica Brits, die bestuurder van die winkelsentrum, het die voorval in ʼn verklaring bevestig en sê die winkelsentrum se bestuur werk saam met die polisie en veiligheidsmaatskappy om die voorval te ondersoek.

“Ons klante en huurders se veiligheid en sekuriteit is prioriteit. Ons is tans besig om verdere sekuriteitsmaatreëls te oorweeg en sal voortgaan om huidige risiko-versagtingsprosedures te verbeter,” sê Brits.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Nuustak ·

Soortgelyke rooftogte gebeur met gewone mense ook. Sê maar net

WitBlits ·

Absoluut – waarom net maatreels instel vir Diplomate….. ???

Cherokee ·

Van wanneer af is ‘n diplomaat nie ‘n gewone mens nie?

JohanR ·

Jy is in ‘n motor met ‘n sterk enjin. Sit jou voet op die petrol, en ry die goed om! Liewer die kar beskadig as jou lewe verloor!

Brakanjan ·

Hulle kon nie vorentoe nie. ‘n Video wat van die anderkant af wys sien jy hoe hulle voor die kar in reverse. Ek sou teen daardie tyd al lankal my kar in reverse gesit het!

Danie ·

Ek twyfel of daar enige Suid-Afrikaner is wat nog nie direk aan misdaad blootgestel is nie. En dit sluit kinders in.

Marcello ·

Ek voel jammer vir die trauma waardeer sy gegaan het, maar is ook bly dit gebeur met ander lande se mense, sodat die wêreld daar buite kan sien, in watse onveilige land ons woon.

piet ·

So wat gaan ander lande aan die onveilige situasie in SA doen? Minder toeriste miskien maar wie ly daaronder anders as ons eie mense. (en ek en jy indirek). So beter bewusmaking oorsee gaan nie tot ons voordeel wees nie. En ek het nuus vir jou, ander lande voel vere wat in SA aangaan. Dis nie hulle land nie.

ES ·

Misdadigers is nie bang om enigiemand op enige plek te teiken nie. Dis ongelukkig deel van ons alledaagse lewe.

marius ·

Daar sal niks verander nie . Die land het verval in ‘n misdaad hool en diegene in beheer is te lamsakkig of dit om te keer. Solank hulle beveilig is op die belasting betaler se rekening voel hulle vere.

Alex ·

Nie dat ek dit hulle is spesiaal geteiken nie. Dit gebeur deesdae met enige iemand. Jy is n sitting duck as jy by n parkade uit ry….

domheks ·

Is dit nou werklik nuus? Dit is nie snaaks om deur gewapende rowers aangeval te word in SA nie. Gebeur daagliks. Nou moet belastingbetalers seker weer sekuriteit verskaf.

kaplyn ·

Die beste raad wat ek kan gee, maak soos ek maak. Ek ry met ‘n 1100 klein motortjie wat nie meer so goed van buite lyk nie. Ek het al in die middestad gestop en nie eers die dingetjie gesluit nie, en almal los my uit – tot die bedelaars. Hierdie duur luukse motors trek baie aandag. En o ja, as jy in die mall loop, los maar jou duur diamand oorbelle en goue armbande en trou en verloofringe en duur horlosies by die huis. Dit trek te veel aandag. En as jy iets gekoop het, gebruik ou supermark plastieksakkies om dit in te sit. En ryk vrouens met hierdie lang blonde hare wat goed versorg lyk, krap jou kapsel so ‘n bietjie deurmekaar en trek klere aan wat nie lyk soos klere wat jy in ‘n duur botiek gekoop het nie. Dra dus commen klere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.