Video: Groot tekort aan orgaanskenkers

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Kyk gerus na die treffende advertensie onderaan die berig. Die Orgaanskenkingstigting het gesê daar is ʼn kritieke tekort aan organe in die land.

“Talle mense sterf terwyl hulle vir ʼn oorplanting wag,” het Samantha Volschenk, uitvoerende direkteur van die stigting, by die Donald Gordon mediese sentrum in Johannesburg gesê. Sy het Vrydag ʼn paneel van mediese kenners, pasiënte en die media toegespreek.

“Daar is tans 4 300 volwassenes en kinders wat op orgaanoorplantings wag en minder as 600 oorplantings word jaarliks uitgevoer,” het sy gesê. Daar is veral ʼn behoefte aan niere. “Talle pasiënte ly aan nierversaking.”

Ander organe wat benodig word sluit lewers, harte en longe in. “Indien die pasiënte nie dié organe ontvang nie, sal hulle sterf,” het sy bygevoeg.

Daar is nie ʼn toename in orgaanskenking nie, ondanks bewusmaking op sosiale media. Daar was die afgelope 24 maande ʼn toename van tussen 80% en 90% van veldtogte op sosialemedia-platforms en die internet.

“Daar is geen grense om ʼn voornemende orgaanskenker te word nie,” het dr. Anna Sparaco, spesialis en oorplantingchirurg, gesê. “Enigiemand kan ʼn orgaanskenker wees.”

Sparaco het gesê mense benodig ook net ʼn halwe lewer en een nier om te oorleef. “Jy kan ʼn lewende orgaanskenker wees,” het sy gesê.

Daar is ongeveer twee skenkers vir elke miljoen mense in die land. “In Spanje is dit 33 skenkers vir elke miljoen mense,” het Sparaco bygevoeg.

Die stigting is nie direk betrokke by mediese prosedures en prosesse nie, maar fokus slegs op bewusmaking van die tekort aan skenkers.

Klik hier om ‘n orgaanskenker te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Marieta ·

Op ‘n stadium het ek en my hele gesin ook besluit ons wil almal orgaanskenkers word. Vandag egter, sal niks my oorreed om dit ooit weer te oorweeg nie, tensy ek nie vir ‘n feit weet dat dit een van my eie familie of geliefdes is wat bevoordeel gaan word nie. Ja, ek weet ek sal seker nou gestenig word oor my siening, maar ek praat uit persoonlike ervaring. Ek weet aan eie lyf hoe dit voel as jy as ouer in afgryse moet afkyk op jou kind se gebreekte liggaam en intussen word jy elke dag bombardeer deur mense en dolters wat jou sover wil kry om papiere te teken om sy organe te mag oes, want hy is glo breindood! En al wat die dokters vir jou se is “ons word net wetlik verplig om hom vir 2 weke aan die lewe te hou, en as jy nie jou klagte teen die personeel se nalatige optrede terugtrek nie, sit ons die lewensondersteunings masjiene af!” Ek weet wat dit is om dag en nag op vuil koue hospitaalvloere in die gange uit te kamp om net sekerheid te he dat jou kind nie weerloos aan hul genade oor te laat nie. Ek weet hoe dit voel as daar klein bietjie hoop opflikker wanneer sy koors bietjie daal, maar hoe die vrees in tienvoud toeneem dat hulle tog dan sy masjiene gaan afskakel as hy nog nie tekens toon dat hy uit die koma gaan ontwaak nie. En ook hoe dit voel as van die hospitaal se eiepersoneel vir jou se die dokters wat so aanhou om te se ” jou kind is breindood en die beste ding wat jy vir hom kan doen is om sy organe te skenk en hom uit sy lyding verlos, want jy verleng net sy lyding uit jou eie selfsugtige oorweging” word glo betaal deur ‘n baie ryk persoon om organe vir hul kliente te werf. En ook weet ek hoe dit uiteindelik voel as einste dokter wel in die middernagtelike ure jou kind se masjiene afskakel en jy kry ‘n frantic oproep van personeel om jou te laat weet wat gebeur. Die magtelose woede en haat waarmee jy daardie dokters al die euwels van die hel toebid en dan die verligting dat jou kind met die krag van die Here self aanhou asemhaal. Ek weet hoe dit nog steeds elke dag aan my vreet dat ek amper geswig het en self die masjiene afgeskakel het, as ek vandag na my kind kyk en sien dat hy bykans 90% normaal is en weet dat ek so amper self die oorsaak sou wees as hy dan nie meer vandag met ons was nie. En nou nog weet ek nie hoe om die Here genoeg te dank vir Sy groot genade nie!

Jooste Vermeulen ·

Beste Marieta,
Ek deel met onteltenis jou leed en ervaring wat jy moes deurmaak met jou en jou seun se trauma. Ek weet dis bykans onmoomtlik om enige persoon wat nog nie self die klas van ervaring meegemaak het nie, te probeer verduidelik hoe dit voel. Ek het self op hospitaal vloere moes uitkamp – my eie seun was telke male al op lewensondersteunende toeristing. Hy veg al nege jaar vir sy lewe en as ons gelukking is kan ons binne kort sy tiende verjaarsdag saam met hom vier. Dit is so, mens voel ALTYD of daar nie genoegsaam met jou gekomminikeer word tydens medise krississe nie. Dit IS die tye wat jy die mees magteloos voel en berge wil omkeer net om jou kind te help om nog ‘n paar asemteue saam met jou te wees. Ai Marieta, in die nege jaar het dit al soveel keer vir my gevoel dat ek iemand wil wurg. Ek moet se meeste van die kere was dit as gevolg van my eie onkunde en ook omdat daar nie genoegsame geleenthede was om my behoorlik in te lig nie. In al die jare het ek baie kinders sien dood gaan. Sommige reg voor my. Ek onthou die pragtige 12 jare meisie, sy was baie slim, wat stadig en traumaties versmoor het. Sy en haar ouers het jare gewag vir ‘n geskikte skenker om vir haar longe te skenk. Nog ‘n 13 jarige dogter van die Oos Kaap, het alleen gesterf. ‘n Nier kon haar lewe red. Haar Ma was ‘n enkel ouer en moes werk. Een Sondag kom daar ‘n seun uit Durban. Sy oë goudgeel en sy maag soos ‘n balie opgesewel. Hy het dringend ‘n lewer nodig gehad. Sy pa was nog so positief. Sterk en seker. Die Vrydag was die seun weg. En so kan ek jou aanhou vertel van kinders an ook groot mense van wie ek weet. Mense wat soos ek desperaat is. Wat alles opoffer. As jy ‘n orgaanoorplanting nodig het word jy met baie moeite aan die lewe gehou. Mese wat vir organse wag, kry baie swaar. Kinders wat vir organe wag lei nie net nie, hulle gees word afgebreek met intense leiding, afsondering en isolasie. Dan is daar nog pyn, moegheid ens ens. Mamma’s het al vir my gese dat sy die marteling van haar kind nie meer kan uitstaan nie. Ek het al dieselfde gevoel. Ek en my vrou het al die ergste oorweeg… Ons was al meer kere te moeg om aan te hou probeer. Maar wat doen jy as jou kind wil leef? Wie sal die oortuiging he om daardie proses te stop? Ek wonder dan hoe voel dokters wat dit oor en oor sien. Dokters wat vir hulle pasiente lief raak. Dokters wat ook desperaat, net soos ons begin voel? Soms dink ek hulle is nie mense nie. Maar hulle IS. Hulle is SUPER mense. Ek het dit nooit besef nie. Die besluite wat hierdie mense moet neem is baie moeilik. Ek wil dit nooit self hoef te doen nie. En dan moet hulle nog dit vir my kom se… Marieta, ek is so jammer vir wat jy moes deurmaak. Ek bedoel dit en ek wens werklik dit kon vir jou anders wees. Ek wil jou graag vra om vir my die geleentheid te gee om te verduidelik oor my verstaanbaarheid van breindood en orgaanskenking. In Suid Afrika is die protokol en wet dat twee onhafhanklike spesialiste ‘n persoon as breindood moet verklaar voordat sy/haar organe vir skenking gebruik mag word. Wanneer ‘n persoon as breindood verklaar is, is daar geen kans dat so ‘n persoon weer sal lewe nie. Ek wil baie graag meer by jou uitvind oor die omstandighede rondom jou kind se traumatiese ervaring. Ek wil jou vra om my asseblief per epos te kontak. Ek is die Direkteur vir Kommunikasie vir die ORgaanskenkersstigiting. My eposadres is [email protected] Ek sal graag jou geval na die nodige kundiges wil verwys vir opinie. Ek sal dit regtig baie waardeer. Laastens wil ek jou bedank vir jou skrywe. Elke persoon wat sy ervaring rondom orgaanskenkin deel, is ‘n positiewe bydra. Baie Dankie. Jooste Vermeulen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.