Video: Ná opehartchirurgie dans klein Sion nou deur die lewe

Sion Chawner van Ermelo, Mpumalanga

Ná maande is hulle nou ‘n gelukkige gesinnetjie; ma Angelique, pa Shane en Sion. (Foto: Verskaf)

Dit was ʼn pad van smart, trane en aande op hul knieë in gebed. Maar eindelik ook een van groot dankbaarheid.

Vir só lank het Angelique en Shane Chawner (albei 35) van Ermelo gehunker na ʼn kind van hul eie en 15 jaar lank het hul arms leeg gebly. Ná agt miskrame het hulle besluit om op te hou probeer.

“Dit was vir ons ʼn vreeslike moeilike tyd. Een dag het ek opgestaan en besluit die dokters het nie gesê ek is steriel nie. Ek en my man het baie gebid oor die saak en binne ʼn maand was ek swanger,” sê Angelique.

In daardie stadium het hulle vier jaar lank ophou probeer swanger raak. Vir Angelique was haar swangerskap blye nuus, maar sy was ook vreesbevange dat iets sou skeefloop.

En toe, op 1 Oktober 2021, maak Sion sy opwagting; hul seuntjie met sy blonde krulle wat dans op die maat van Appel se treffer Foute.

Sion was egter deurlopend siek en op 16 maande het hy al drie keer erge longontsteking opgedoen. Hy het al hoe bleker geword en die gesin het van Middelburg, waar Shane by ʼn myn gewerk het, na Ermelo verhuis omdat Sion pal daar vir besoeke by dokters en ander spesialiste moes wees.

Angelique vertel dat Sion op ʼn dag selfs meer as gewoonlik gesukkel het om asem te haal. Hy was blou in die gesig en sy het met hom na die hospitaal op Trichardt vir hulp gejaag. Kort hierna word Sion opgeneem weens ʼn respiratoriese sinsitiale virus en bly hy 11 dae in die hospitaal voor hy ontslaan kan word.

Sion Chawner van Ermelo, Mpumalanga

Sion Chawner (2) was vir lank siek gewees en moes twee operasies ondergaan om gaatjies in sy hart te herstel. (Foto: Verskaf)

Dit was egter eers heelwat later dat vasgestel is hoekom klein Sion chronies siek is en sukkel met asemhaling: hy het hartversaking weens twee gaatjies in sy hart.

“Dit was nogal groot gaatjies gewees,” sê Angelique.

Een van die gaatjies in Sion se hart, het dokters bevind, is weens ʼn aar wat nie tydens sy geboorte gesluit het nie. Die ander was ʼn klep tussen sy hartkamers wat nie behoorlik gefunksioneer het nie.

Angelique soek na die regte woorde om dit te beskryf: “Dit was swaar nuus, ons wou nie dink aan die prosedures wat hy moes deurgaan nie.”

Dan sê sy ook: “Gelukkig het ons ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk om ons gehad. Ons familie en vriende het saam met ons gebid. Daar was selfs mense van oorsee wat van Sion gehoor het en ook gebid het dat hy oukei sal wees.”

Sion Chawner van Ermelo, Mpumalanga

Sion Chawner (2). (Foto: Verskaf)

Die prosedures waarna sy verwys, was twee moeilike operasies. Die eerste is op 4 April vanjaar gedoen om die aar te herstel. Verlede maand moes Sion ʼn opehartoperasie ondergaan om die klep tussen sy hartkamers te herstel.

Die koste daaraan verbonde was egter enorm en die gesin het gesteier onder die tol wat Sion se tyd in die hospitaal geëis het. Hulle het ʼn fondsinsamelingsveldtog op Back-a-Buddy vir Sion van stapel gestuur om die rekeninge te help betaal.

“Ons het nou ná alles groot rekeninge ontvang waarvoor ons mediese fonds nie betaal het nie,” sê Angelique.

Maar vandag, terwyl sy oor die pad tot hier praat, is daar net vreugde en groot dankbaarheid.

“Ons gebede is verhoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Seder op die horison ·

Dit is asemrowend om te weet dat Abba julle gehoor het en vir Sion genees het, prys Sy Naam

Casper ·

Here,met trane van dankbaarheid dank ek U vir genade wat U oor hierdie mense uitgestort het en besef ek hoe broos en feilbaar ons is.

Lettie ·

Casper, prys die Heer saam met al die familie en MM vir Sy wonderlike genade. Ons Groot Geneesheer. Amen

OU SAAR ·

Wat ń pragtige pragtige klein seuntjie.
Mag hy met die Here se genade opgroei tot ń mooi jong man en sy God en ouers net vreugde verskaf.
Baie sterkte vir die pad vorentoe.

Angelique ·

Baie Dankie Maroela Media en Isabel vir die mooi berig. Ons is julle ewig dankbaar, Woorde kan nie beskryf hoe lief ons die Jesus Kind het nie. Hy is n ysterman.

Dankie vir die mooi wense almal.

Liefde Angelique en Shane Chawner

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.