Video: Nederige Ndavi steeds trotse plattelandse meisie

Ndavi Nokeri, Mej. SA 2022. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Al skuur sy nou gereeld skouers met bekendes en invloedrykes op die wêreldverhoog, sal Ndavi Nokeri, Mej. Suid-Afrika 2022, in haar hart altyd ʼn trotse plattelandse meisie wees.

Dit is immers in die platteland, aan die Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen, waar sy haar eerste smakie van skoonheidskompetisies gehad het toe sy in 2016 as Mej. Vossie gekroon is.

“Ek is tot vandag toe ʼn trotse Vossie,” vertel die 23-jarige tydens Maroela Media se besoek aan die luukse Ellipse Waterfall-woonstel wat sy die afgelope vyf maande haar tuiste noem.

Dié tweeverdiepingdakwoonstel in Midrand ter waarde van R10,5 miljoen is nie net haar tuiste tussen die warboel onderhoude, verpligtinge en internasionale kompetisies waaraan Mej. Suid-Afrika moet deelneem nie, maar ook waar sy met vriende en familie kuier wanneer sy ʼn blaaskans kry.

“Ek nooi graag vriende oor en is gek oor bordspeletjies, maar ek moet bieg ek’s vreeslik kompeterend,” sê sy tergend terwyl sy na die 30 Seconds-boks op haar koffietafel wys.

Tussen die uiters moderne meubels en duursame dekor-items hang kunswerke wat aanhangers vir haar gedurende haar kroningsjaar gestuur het, ʼn bevestiging van haar bykomende titel as ʼn aanhangergunsteling tydens die Mej. SA-kompetisie.

Die 23-jarige is oorspronklik van Gabaza, ʼn landelike nedersetting in Tzaneen in Limpopo. Haar ouers, Betty en Moses Nokeri, is albei pastore en het volgens die jong skoonheid sterk Christelike waardes by haar gevestig om die vrou wat sy vandag is te help vorm.

Ndavi glo Mej. SA gaan oor veel meer as net skoonheid. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Sy het aan die Hoërskool Ben Vorster gematrikuleer en ook ʼn BCom-graad in beleggingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf.

“Dit maak alles net ekstra spesiaal om te weet dat mense by my aanklank vind en ek dink my grootwordjare het vir my daardie voordeel gegee. Ek is gelyktydig aan twee verskillende wêrelde en verskillende tale en kulture blootgestel en kan maklik by mense inskakel. Daardie aanpasbaarheid is iets waarop ek baie trots is.”

Sy is boonop die eerste vrou van Tsonga-herkoms om die Mej. Suid-Afrika-kroon te dra en dit is in haar nasionale kostuum vir die Mej. Heelal-kompetisie weerspieël.

Benewens Engels kan sy Afrikaans, Sepedi en Xitsonga vlot praat.

“Daar is ruimte vir elkeen van ons om te floreer, ons almal hoort hier en as die eerste Tsonga-vrou wat Mej. Suid-Afrika is, glo ek dit sal die hoop en aspirasies van diegene wat wanvoorgestel gevoel het, weer laat opvlam.”

Sy het ook met Maroela Media oor haar Mej. SA- en Mej. Heelal-ervarings gesels, wat albei deur haar as groeigeleenthede bestempel word en ook vertel waarom skoonheid na haar mening nie die kern van skoonheidskompetisies is nie.

Kyk hier na die volledige onderhoud:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

TruthDealer ·

Wat n pragtige mens, op elke manier. Mens kan sien sy het ook n goeie hart.

Eugene ·

Fantasties ndavi. Jou Afrikaans is puik en jys n’ pragtige jong vrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.