Video: Rekordgetal besoekers by Nampo

Die ingang by Nampo-park buite Bothaville (Foto: Janice du Plessis/Mroela Media)

Altesame 25 505 mense het Woensdag deur die Nampo-park se hekke gestroom. Dit is byna 10 000 meer besoekers as Dinsdag.

Volgens dr. Dirk Strydom, Graan SA se hoof van Nampo, bemarking en navorsingsontwikkeling, is dit ʼn rekordgetal in die Nampo Oesdag se geskiedenis van 56 jaar.

“Ons is ongelooflik trots op die getal mense wat Woensdag saam met ons in die heerlike gees hier by Nampo kom deel het. Dit is vir ons ʼn groot seën om soveel mense in die park te verwelkom.

“Dit was selfs in ʼn stadium moeilik om in die park rond te beweeg,” skerts Strydom.

Hy sê uitstallers is in ook hul noppies oor die sake wat gedoen word en gesprekke wat vanjaar by Nampo plaasvind.

Altesame 91 vastevlerkvliegtuie en 21 helikopters het Woensdag by Nampo geland. Die totale bewegings van vliegtuie – vliegtuie wat inkom om te land en dan weer opstyg om ander besoekers na Nampo te vervoer – staan op 221.

“Ons vliegveld is ongelooflik besig. In ʼn stadium het ʼn vliegtuig elke 20 sekondes by ons kom land.

Nampo

(Foto: Verskaf)

“Baie mense wil weet wie of diegene wat invlieg produsente is, maar dit is ʼn verskeidenheid van mense; dit is onder meer ʼn klomp sake-eienaars en internasionale besoekers wat invlieg. Tussen 30% en 40% van diegene wat invlieg, is produsente.”

Strydom sê om meer as 25 000 mense op een slag te akkommodeer is ʼn groot uitdaging, maar dat talle van die nuwe verwikkelinge in die park tot die sukses hiervan bydra.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Maroela Media het vroeër berig Graan SA se oesdagkomitee en personeel het skouer aan wiel gesit om te verseker dat die Nampo-park vanjaar weer van die hoogste gehalte is en dat almal wat die geleentheid bywoon veilig voel.

Bykomende ruimtes is voor die Omnia-standplaas vir uitstallers opgerig, wat die land se grootste skou selfs groter maak.

ʼn Splinternuwe saal, die Midas-saal wat uitstalruimtes vir 60 bykomende stalletjies bied, verkoop van landbouprodukte tot meubels en produkte vir vroue.

Verskeie paaie het plaveisel gekry sodat besoekers die uitstalruimtes maklik kan bereik.

“Ek sien uit na nog twee wonderlike dae. Ek glo dat dit net so goed soos die eerste twee dae gaan verloop.”

Altesame 16 122 mense het die park Dinsdag park besoek en 55 vastevlerkvliegtuie asook 13 helikopters het op die vliegveld geland.

In geheel het die Nampo-park in twee dae byna 42 000 besoekers verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elméne ·

WOW!! Dit is so, so goed om te sien hoe ons “boere” opereer ten spyte van die gemors waarin ons land huidiglik is – sterkte en VOORSPOED vir julle in die jare wat kom.

Andries ·

Maar nog steeds is die organiseerders nie te vinde om die getal dae te verleng nie. Die uitstallers is genee daarmee meer die groot koppe is halstarrig.

Ronél ·

@Elmené………………….ek sê ook BRAVO!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.