Video: Siya vertel oor lewensreis van stofpaaie tot stampvol rugbystadions

Siya Kolisi tydens die voorskou van sy dokumentêre-fliek. (Foto: Verskaf)

Die Springbokkaptein Siya Kolisi het jare gelede reeds besef dat sy verantwoordelikheid teenoor Suid-Afrika nie op die rugbyveld eindig nie, maar op dieselfde stofpaaie van die informele nedersetting waar hy as kaalvoetkind ʼn liefde vir rugby ontdek het.

Daarom het hy besluit om ʼn rou, eerlike blik op sy eie suksesverhaal te gee, in die televisie-dokumentêr, Rise: The Siya Kolisi Story, wat Sondag om 15:00 op M-Net te sien is.

“Hierdie gaan nie vir my oor selfbejammering nie, maar eerder bemagtiging. Ek wil mense aanmoedig en inspireer om nooit oor hul omstandighede skaam te wees nie, en ook nie daardeur beperk te voel nie.

“Ek glo dat ons as mense ʼn byna morele plig het om ons platforms te gebruik om ʼn verskil in ons nabye omgewings te maak,” het die 31-jarige tydens dié dokumentêr se voorskou by Monte Casino in Johannesburg gesê.

Rise is oor ʼn tydperk van drie jaar verfilm en het die Springbokkaptein gedwing om in die diepste en met tye donkerste dele van sy grootwordjare te delf.

Hoewel hy deel van die vervaardigingspan was, wou Siya nie doekies met die moeilike aspekte van sy verhaal omdraai nie.

John Smit en sy vrou, Roxanne. (Foto: Verskaf)

Sy besluit om dié dokumentêr eers in sy tuisdorp te wys voordat dit op televisieskerms verskyn, spreek boekdele van die rugbyheld se verbintenis met sy verlede.

Alles van sy nederige begin in sy ouma, Nolulamile, se huis in Zwide naby Gqeberha (Port Elizabeth), sy ma se afsterwe, sy uitdagende verhouding met sy pa, Fezakele Kolisie, sowel as sy eie stryd met alkohol en dwelmmisbruik, word in die fliek behandel.

“Op die einde van die dag het elke enkele mens foute gemaak en uitdagings ervaar, en ek is nie bang om dit te erken nie. Ek dink as jy dit wegsteek en vashou, beteken dit jy gaan nie aan nie, en ek wil normaliseer deur hierdie onderwerpe openlik aan te spreek. Ek is nie ʼn celeb nie en die lewe is nie Hollywood nie. My droom en gebed is dat my foute mense sal inspireer om nie dieselfde foute te maak nie.”

Marc Jury, hoof van SuperSport. (Foto: Verskaf)

Hy het tydens die dokumentêr se voorskou, wat deur bekendes soos die oud-Bokkaptein John Smit en die swemster Tatjana Schoenmaker bygewoon is, ook vertel oor die rol wat geloof in sy lewe gespeel het, en sy vrou, Rachel, se besluit om die verfilmingsproses drie jaar gelede met gebed af te skop.

“My hele lewe het onherroeplik verander die dag wat ek die Here leer ken het, en ons, sowel as die hele produksiespan het besef dat hierdie proses groter is as net onsself.”

Sy loopbaanhoogtepunt, toe die Springbokke in 2019 onder sy kapteinskap die Wêreldbeker gewen het, word ook aangeraak. Van sy huidige en voormalige spanmaats, insluitende Eben Etzebeth, Jean de Villiers, Scarra Ntubeni en Cheslin Kolbe, vertel ook meer van die rugbyheld se grapperige kant.

ʼn Groot besprekingspunt in die dokumentêr vir Siya – wat op Grey High School in Port Elizabeth gematrikuleer het – is kommunikasie en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan in die twee verskillende wêrelde en verwysingsraamwerke waarin hy grootgeword het.

Siya hoop dat sy verhaal aanklank by oud én jonk sal vind. (Foto: Verskaf)

“Te veel verhoudings verbrokkel omdat ons as mans, en veral ons as swart mans, nie oop en eerlik met mekaar wil gesels nie. Ek het baie keer in beide my twee kontrasterende wêrelde soos ʼn buitestander gevoel, maar het gelukkig die regte mentors gehad en geweet wat ek moet doen om sukses te behaal.”

Marc Jury, uitvoerende hoof van SuperSport, het tydens die dokumentêr se voorskou gesê dat oud en jonk by Siya se verhaal  aanklank sal vind.

“Ons land berus op hoop, en daarom is ons doel om deur sport ‘n positiewe impak te maak en daardie broodnodige hoop by mense te ontlok. Siya se verhaal en sy nederige menswees sal beslis ʼn bydrae lewer om hierdie doel te bereik. Hy is ‘n bewys dat gesindheid alles is wanneer dit oor die oorwinning van teëspoed gaan.”

  • Rise: The Siya Kolisi Story word Sondag 26 Februarie om 17:00 op M-Net en 20:00 op SuperSport uitgesaai.
  • Inkomste uit die dokumentêr word aan die Siya Kolisi-stigting vir voorheen benadeelde gemeenskappe geskenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ny ·

Wel…as hy goed is in rugby en doen dit eerbaar en op die regte manier, verdien hy dit en ek gun dit vir hom!

Shakespeare ·

Ek sal graag die fliek wil sien. As hy nie vir Eben volle erkenning gee vir sy sukses nie sal ek geen respek vir hom oorhê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.