Video: Stappe teen beampte wat drank in polisievoertuig karwei

(Argieffoto)

Die polisie sê sy ondersoek na bewerings dat een van sy beamptes ʼn gemerkte polisievoertuig gebruik het om drank mee rond te ry is afgehandel en aanklagte teen die betrokke lid is reeds aanhangig gemaak.

ʼn Video van die voorval is vroeër op sosiale media gedeel en het gewys hoe mense wat lyk soos drank uit die agterkant van die vangwa laai en by ʼn perseel indra. Dit het groot woede veroorsaak, veral omdat die verkoop en vervoer van alkohol weens die afsonderingsregulasies in hierdie stadium streng verbied word.

Brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê nadat die video onder die polisiebestuur se aandag gebring is, is ʼn ondersoek dadelik van stapel gestuur om vas te stel wie die video geneem het, waar die voorval plaasgevind het, wie die mense is wat afgeneem is, bevestiging van wat hulle afgelaai het, asook om te bepaal met watter polisiestasie die voertuig verbind word.

“Die ondersoek, gelei deur die distrikskommissaris vir Tshwane, genl.maj. Hilda Mohajane, is vinnig afgehandel en het gelei tot die open van ʼn klagte van die gebruik van ʼn voertuig sonder die eienaar se toestemming en ʼn oortreding van die Wet op Rampbestuur teen ʼn polisiebeampte,” het Peters gesê.

Die ondersoek het bevind die voorval het by ʼn winkelsentrum in Centurion plaasgevind in ʼn gebied wat deur die Lyttelton-polisiestasie gepolisieer word. Dit is ook bevestig dit was wel drank wat afgelaai is.

UPDATE POLICE HAVE CONTACTED ME TO INVESTIGATE THE FULL CONTEXT OF THIS VIDEO . WE WAIT AND SEE .Cops delivering…

Posted by Megan Lubke on Monday, January 11, 2021

“Dit dui daarop dat die staatsvoertuig gebruik is om alkohol in oortreding van die aangepaste vlak 3-afsonderingsregulasies, te vervoer.”

Petersen sê departementele stappe sal ook teen die betrokke lid oor sy beweerde onvanpaste gedrag gedoen word.

Genl.maj. Tommy Mthombeni, waarnemende provinsiale polisiehoof, het die publiek geloof vir hul samewerking tydens die voorlopige ondersoek.

“Nadat ons die video gesien het, was ons bekommerd omdat daar met die eerste oogopslag geen fyner detail gesien kon word nie, nie eens in watter provinsie die voorval gebeur het. ʼn Dringende en intensiewe ondersoek was dus nodig om agter die kap van die byl te kom,” het Mthombeni gesê.

“Dit is ʼn riem onder die hart dat die ondersoekbeampte en almal wat bygedra het tot die ondersoek, die erns besef het waarmee die polisiebestuur die voorval beskou.”

Mthombeni het ʼn beroep op die publiek gedoen om voort te gaan om oortredings aan te meld, veral wanneer die beweerde oortreders polisiebeamptes of ander wetstoepassers is.

“Niemand is bo die reg verhewe nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Danie ·

Nee maar lekker man. Lyk my SAPS is ook dan nou Mr Delivery. Ons moet maar ons bestellings plaas!

Oom Kobus ·

Die polisie neem ń pa wat uit nood formula melk vir sy Klein baba gaan koop, hardhandig in hegtenis. Sweefvlieërs word geboei, mense word vir onsinnighede in hegtenis geneem.
Hier egter klink dit of die polisie lid, medepligtiges en winkel eienaar steeds op vrye voet is.
Hoe verklaar jy dit??
Oom Kobus

Willem ·

Stappe? Fire hom en neem stappe teen die wat dit ontvang het

Harry ·

Nee wat. Neem hom hegtennis en gee hom ‘n rekord van ‘n misdadiger. Reg so Mnr Cele??

SjN ·

Afleweringsvoertuie van koerier ondernemings word deesdae geteiken, kry dus n veilige staats gesubsidieerde diens om die werk te doen, slegs in SA.

Sêmanet ·

Daar is nie eens ‘n uniform in sig nie. Was hy reeds van diens af, en hoekom het hy dan die voertuig in sy besit? Dis seker drank wat reeds gekonfiskeer is wat nou aan shebeens verkoop word. Openlik doen hulle dit, probeer nie eens die goed verberg of wegsteek nie.

Tanniepetoors ·

Iets ruik nie lekker met hierdie storie nie en dis nie gestorte bier nie.

Astrain ·

Poepliesie…solank jy net nie gaan loop surf opi Beach nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.