Video: Swartmamba by KZN-laerskool gevang

Neville Wolmarans met die swartmamba (Foto: Skermgreep uit die video)

ʼn Swartmamba-wyfie is Sondagmiddag by ʼn laerskool in Tongaat in KwaZulu-Natal gevang.

Swartmambas is een van die dodelikste slange in die wêreld en die langste giftige slang in Afrika.

Lede van Reaction Unit South Africa (Rusa) is omstreeks 13:00 na die skool ontbied toe personeel ʼn slang in die boom opgemerk het. Beamptes het die slang as ʼn swartmamba geïdentifiseer en die spesialis-slangvanger Neville Wolmarans van Reptiles Unlimited ontbied.

In die video kan gesien word hoe Wolmarans die boom versigtig nader en die slang dan behendig hanteer. Rusa het bevestig die slang sal in haar natuurlike omgewing, ver van die huise af, vrygelaat word.

Wolmarans, ook die eienaar van die Ndlondlo-reptielpark, het bevestig dit is ʼn wyfie en sy is ongeveer 2,4 meter lank. Hy is in die kommentare op die plasing op Facebook geloof vir sy dapperheid en kennis om die slang te hanteer.

Volgens die Afrikaanse Wikipedia kan swartmambas tussen 2,5 en 4,5 meter lank word. Anders as wat sy naam aandui, is die swartmamba nooit heeltemal swart nie: sy kleur wissel van olyfgroen tot donkerbruin aan die bokant en gryserig op die pens. Sy bek is egter altyd pikswart binne-in. Sy byt is feitlik altyd dodelik as dit nie onmiddellik behandel word nie. Die gif is senuvergiftigend. Die slang pik ‘n paar keer na mekaar en die gif werk vinnig. Onmiddellike behandeling is nodig anders sterf die slagoffer weens verlamming en versmoring. ‘n Teengif is beskikbaar. Swartmambas word hoofsaaklik aangetref in die laeveldgebiede van Mpumalanga, bosveld van Limpopo en Gauteng en in KwaZulu-Natal. Hulle is baie rats en is ewe tuis op die grond as in bome. Die prooi bestaan hoofsaaklik uit voëls en klein soogdiere soos knaagdiere en dassies. Hy vreet ook ander slange, soos kobras en pofadders.

Indien ‘n swartmamba teëgekom word moet daar stadig en versigtig agteruit beweeg word. Skielike beweging sal die slang vinnig en baie kere laat pik. Die slang kan teen ‘n spoed van 20 km/h voortbeweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Elizabeth ·

Brawe man. Ek sal in ñ floute gaan. Groot bewondering vir ons slangkenners en -vangers.

Miena ·

Nie net braaf nie… Nee ons hanteerders doen dit vir die liefde van die saak en om mens en dier van mekaar te skei. Juis om ongelukke te voorkom. dit is veral wanneer mense slange probeer doodmaak dat hulle gepik word.

Pieter ·

Welgedaan Neville in ag genome dat jy slegs 1 been het, met krukke loop en so gemaklik die slang verwyder.

Louwrens ·

Ek het self al n 2.480 m een gevang in Empangeni. My Staffie het egter gesterf as gevolg van die slang.

Pieter ·

Jammer van die Staffie. Ook al 2 honde verloor deur mamba nadat die honde die mamba doodgemaak het. ‘n Veearts van Naboomspruit het onlangs ‘n Staffie deurgetrek na ‘n mamba byt met teëgif en ‘n ventilator. Verg onmiddelike optrede. Kan dus gedoen word.

Miena ·

Pieter – ek het die storie gevolg op fb omdat ek en my man self slanghanteerders is in GP & MP. Dit was n wonderwerk wat daar gebeur het. “By the way… jy is nie dalk van Potties nie? Indien wel- dan ken ons mekaar (van Mogalakwena en fb Slang groepe), indien nie – aangename kennis!!

Harley Davidson ·

Ek glo aan die Bybel daarom dood ek ‘n slang op sig giftig of nie punt

Marcello ·

Hoekom hom vrylaat, dit is die duiwel homself, en môre pik hy iemand, makk hom dadelik dood, maak nie saak giftig of nie-giftig nie.

Miena ·

Nee hoekom doodmaak. Jy kan nie se n slang is die duiwel homself nie. Net omdat jy dit glo of gelees het omdat dit so erens in die Bybel genoem word?? Ek stel voor jy gaan sit en he n ernstige gesprek met jou leraar oor jou letterlike opvatting van die slang.

Miena ·

Nee Neville is nie onverantwoordelik nie. Hy is n gesoute slanghanteerder vir etlike jare al en baie van ons ander slanghanteerders volg hom op ander sosiale netwerke en leer nogsteeds iet by hom – al gaan ons gereeld vir “refresher-training” ens. Jy kan gerus op fb hom opsoek en sy navorsings-werk ook na-slaan. Hy doen goeie werk.

Miena ·

Weereens goeie werk Neville. Vinnige optrede en veilige relocation is altyd in jou vissier. Dankie vir jou werk wat jy in Natal doen – ons slang hanteerders hier in die binneland MP & GP hou jou netwerk dop om te sien waarmee jy daagliks te doene kry… soms anderste spesies as ons. Maar ons doel is dieselfde – veilige en vinnige vangs asook hervesting elders waar dit veilig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.