Video: Topfietsryer beseer in struweling met parkbeamptes

Die fietsryer Nic Dlamini in aksie. (Foto: Twitter)

Daar is vrese dat een van Suid-Afrika se voorste fietsryers se arm gebreek is in ʼn struweling met ʼn wildbewaarder in die Tafelberg Nasionale Park.

ʼn Video wat wyd op sosiale media versprei is, wys hoe Nic Dlamini agterin ʼn bakkie geboender word.

Luidens ʼn verklaring van SANParke (wat Dlamini nie by name genoem het nie) het Dlamini hom teen inhegtenisneming verset.

SANParke sê volgens ʼn wildbewaarder het Dlamini die Silvermine-gebied binnegekom sonder om die bewaringsgeld te betaal en kon hy ook nie enige permit toon toe hy daarna gevra is nie.

Wildbewaarders is van die voorval in kennis gestel en in die daaropvolgende “situasie het die verdagte homself beseer”.

SANParke het gesê verklarings sal van al die betrokke bewaarders, asook by Dlamini geneem word.

SANParke het ook gevra dat enigiemand met inligting oor die voorval na vore sal kom. Hulle het reeds met ʼn ondersoek na die voorval begin. SANParke het ook gevra dat besoekers alle nodige gelde betaal wanneer hulle die park besoek.

Dlamini se fietsryspan, NTT Pro Cycling, het op Twitter gesê hy is bewus van die video.

“[Dlamini] ondergaan tans mediese assessering, waarna ons meer volledige terugvoer sal kan gee van wat presies gebeur het.”

Daar was aanvanklik bespiegeling dat Dlamini se arm gebreek is toe een van die bewaarders dit agter sy rug ingevou het om hom in hegtenis te neem. Die geluid wanneer die arm oënskynlik breek, kan glo op die video gehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.