Video: ‘Transito-held’ se toertjies laat land skater

Leo Prinsloo maak ‘n verskyning in die nuwe advertensie vir The Courier Guy. (Foto: Skermgreep)

Die gewildheid van die koeriermaatskappy The Courier Guy se splinternuwe advertensie kan miskien toegeskryf word aan die bekende gesig wat daarin verskyn.

Leo Prinsloo, die sekuriteitswag wat verlede jaar oornag ʼn Suid-Afrikaanse held geword het toe hy ʼn bende transitorowers in Pretoria met sy bestuursvernuf gefnuik het, het ʼn kameerol in die advertensie as “the cash-in-transit-guy”.

ʼn Video van Prinsloo en sy kollega, Lloyd Mtombeni, wat aangeval is terwyl hulle ʼn besending selfone in ʼn ander voertuig begelei het, is in Mei verlede jaar wyd versprei.

The Courier Guy se advertensie versprei tans soos ʼn veldbrand op sosiale media. Die advertensie is gekonseptualiseer deur Bennie Fourie en Bouwer Bosch van Freckle Creative.

Fourie en Bosch is ook in dié tong-in-die-kies-advertensie te sien.

Die advertensie speel af in The Courier Guy se opleidingsentrum waar Prinsloo die koerierpersoneel leer hoe om die pakkies wat vervoer word te “beskerm”.

Die opleiding behels ʼn paar skreeusnaakse toertjies wat deur Prinsloo op ʼn “aanvaller” uitgevoer word. Die advertensie eindig met ʼn stem wat sê: “The courier trained for South African conditions.”

Die video is Saterdag op YouTube gedeel en is sedertdien duisende kere gekyk. Gemeet aan die kommentaar op die video wat op Good Things Guy se Facebook-blad gedeel is, prikkel dié advertensie beslis Suid-Afrikaners se lagspiere.

“Ek is mal oor Suid-Afrikaanse advertensies. Niks kom naby Suid-Afrikaanse humor nie,” het een Facebook-gebruiker geskryf.

“Dit is waarom ek lief is vir Suid-Afrika en almal wat hier woon,” het nog iemand geskryf.

Kyk hier na die advertensie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

B-Man ·

Nog ‘n bewys dat jong wit mans nog sukses kan behaal in hierdie land. Welgedaan Bennie en Bouwer! Julle oorspronklikheid en kreatiwiteit is tops!

Wolkie ·

SA se eie Chuck Norris!! die advertensie is vrek snaaks ;-)

Wielspore ·

Ma, ma, kom kyk, Rambo is by die voordeur, ja my kind dit is seker ‘n pakkie van The Courier Guy.
Ek glo geen rower is beseer in die maak van die advertensie, wel gedaan.

Wielspore ·

Kyk, as mense na die advertensie gaan soek op Youtube om daarna te kyk moet dit iets besonders wees…. platvloers, nope, skerp, ja

Frank ·

Konsentrasie kampe oprig is dan seker jou tipe neus-in-die-lug tydverdryf

Vonkprop ·

Ons kyk seker nie na dieselfde advertensie nie Charles…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.