Video: Vrede van Vereeniging presies 120 jaar later herleef

Die geskiedkundige oomblik is in dieselfde eetkamer voor ʼn klein uitgesoekte gehoor “opgevoer”. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Op Saterdag 31 Mei 1902 vergader tien verteenwoordigers van die Boererepublieke by Melrose-huis, die Britse lord Kitchener se hoofkwartier in Pretoria, om kort ná elfuur die aand die bloedigste oorlog wat ooit op Suid-Afrikaanse bodem gewoed het, te beëindig.

Die Verdrag van Vereeniging – beter bekend as die Vrede van Vereeniging – is op daardie tydstip om ʼn eetkamertafel onderteken en het die einde van die Anglo-Boereoorlog, maar ook die begin van Britse oorheersing in Suider‑Afrika beteken.

Dinsdagaand, op presies dieselfde tydstip, is dié droewige en geskiedkundige oomblik in dieselfde eetkamer voor ʼn klein uitgesoekte gehoor “opgevoer” en herleef.

“Ons wou hê mense moes besef watter verskriklike oomblik dit vir die Boere moes wees om na ʼn uitmergelende oorlog voor twee van die kernfigure wat verantwoordelik was vir die verwoesting van hul land, te moes sit en dit basies aan hulle oor te gee,” verduidelik Louina Marais, komiteelid van die Vriende van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, wat dié spesiale herdenking georganiseer het.

Komiteelede het selfs die handtekeninge van die figure wat hul verteenwoordig, geoefen en tot die beste van hul vermoë op die kopie nagemaak. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die belangrike datum word jaarliks deur die geskiedenisgroep met ʼn lesing herdenk, maar daar is vanjaar deur prof. Fransjohan Pretorius, ʼn skrywer en geskiedenisdosent verbonde aan die Universiteit van Pretoria, voorgestel dat die 120ste jaar ʼn uiters unieke herdenking verdien.

Pretorius, ʼn Anglo-Boereoorlog-kenner, het daarom gisteraand skuins na halfelf dieselfde lesing wat hy destyds met die 100‑jarige herdenking van dié geleentheid aangebied het, weer voor ʼn volgepakte gehoor in die eetkamer van Melrose-huis voorgelees.

Daarna het erelede van die Vriende van die Oorlogsmuseum, onder wie akademici en die voormalige skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria, dr. Pierre Edwards, die vertrek binnegekom en as verteenwoordigers van die Boere‑ en Britse leiers die ondertekening van die vredesverdrag “opgevoer”.

Pretorius het al lopend om die tafel verduidelik waar elkeen van die leiers gesit het en elkeen se rol in die oorlog verduidelik.

Die oorspronklike, maar stukkende horlosie in die vertrek se wysers is daarna op vyf minute ná elf gestel en die erelede, wat die tien Boereleiers sowel as lord Alfred Milner en Herbert Kitchener verteenwoordig het, het in dieselfde volgorde ʼn oorgetikte kopie van die vredesverdrag in die eetkamer onderteken.

Pretorius het elkeen van die leiers se rol in die oorlog verduidelik. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Pretorius het die verrigtinge op dié oomblik uit die aangrypende notule van 31 Mei 1902 afgesluit: “Die dokumente was geteken, alles was stil in die vertrek. Nog het almal vir ʼn oomblik stilgesit. Toe staan die lede van die Regerings van die nou gewese Republieke asof verbyster op om die vertrek te verlaat. Voordat hulle kon uitstap, het lord Kitchener van die een na die ander gegaan, elkeen die hand aangebied en gesê: “We are good friends now!”

Volgens Marais het die komiteelede selfs die handtekeninge van die figure wat hul verteenwoordig, geoefen en tot die beste van hul vermoë op die kopie nagemaak het.

Dié dokument, sowel as ʼn opname van die aand, sal by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein bewaar word.

Dié dokument sal by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein bewaar word. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Dit is vir ons as Vriende van die Oorlogsmuseum beslis  ʼn hoogtepunt, want hierdie is die mense oor wie ons dikwels leer en skryf. Dit bied vir ons ʼn unieke blik van hoe daardie aand moontlik afgeloop en gevoel het,” sê sy.

“Die 100‑jarige herdenking was een van die hoogtepunte van my lewe, maar dit ʼn uiterse groot voorreg om 20 jaar later weer dié kenmerkende oomblik in ons geskiedenis te herleef. Ek het my vrou egter gerusgestel dat ons die 150ste herdenking maar mag misloop,” het Pretorius ook skertsend gisteraand aan die gehoor gesê.

 

Kyk dié spesiale geleentheid hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

melaney ·

Ek is in besit van ‘n baie ou boek genaamd Boere Oorlog. Nog in ‘n puik en leesbare toestand. Het gewonder wat om daarmee te maak. Dalk sal die Bloemfonteinse Oorlogsmuseum belangstel.

annie ·

Alles gaan toe oor ons minerale… goud en diamante. Maar die ergste is dat Jan Smuts toe omspring betower deur die Britse adel en sy mense vergeet. Brittanje se koningin gaan juis vandeesweek pronk in haar krone beplak met juwele uit ons bodem. Ok nog nooit jammer gesê oor die vele van onse mense wat hul lewens moes opoffer vir Britse gierigheid nie.

Piet Snot ·

Toe ek in Londen daai septer en kroon sien met ons groot diamante daarin, was dit asof iemand my wind uitslaan.
My land se wêreldrekord diamante in die kroonjuwele van die veroweraar!
My land, my land…

philippus ·

Jan was seker een van die groomsmen Afrikaner verraaiers in my opinion. Hy het selfs die vekeerde wapens bestel. En vir De LA Rey laat vermoor en Genl.De Wet in tronk gegooi. My was afrika se eerste Mugabe.

Fran ·

Ek het nie ooghare vir Engelse nie. Nie hulle royals, rugby of krieket nie. My voorouer was op Burmuda gevangene gewees terwyl sy vrou en kinders in konsentrasiekampe was en sy plaas vernietig is. Klink baie soos vandag nê?

Eden ·

Heel oulik, behalwe vir daai twee goodie twoshoes met die maskertjies op in die agterste ry. Hulle moes eerder by die huis gebly het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.