Vier dood in ongeluk op N17

(Argieffoto: Hansie Linde)

Vier mense is dood toe ’n vragmotor en ’n sedan Saterdagaand op die N17-snelweg tussen Breyten en Ermelo in Mpumalanga in ’n trompop botsing betrokke was.

Volgens Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, is die bestuurder en drie passasiers van die sedan onder die oorledenes.

Nog twee passasiers van die sedan het ernstige beserings opgedoen en is na die Ermelo- provinsiale hospitaal vir verdere mediese behandeling geneem.

Die bestuurder van die vragmotor het ongedeerd van die voorval afgekom.

“Volgens inligting het die ongeluk plaasgevind nadat een van die voertuie ’n ander motor verbygesteek het. Ten tyde van die ongeluk was die sedan van die R65-pad onderweg om by die N17 aan te sluit,” sê Mmusi.

Die ongeluk word deur die polisie ondersoek.

“Die vier oorledenes en twee beseerdes is almal mans tussen die ouderdomme van 30 en 35 jaar oud.”

Vusi Shongwe, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het motoriste weer eens daaraan herinner om die padreëls te gehoorsaam, veral snags.

“Die meeste ongelukke vind snags plaas om verskeie redes, onder meer swak sigbaarheid en roekelose bestuur. Motoriste moet ekstra versigtig in die aande ry,” sê Shongwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.