Twee vroue, onderskeidelik 64 en 69 jaar oud, word sedert die naweek in Makhado (Louis Trichardt) en Bela-Bela (Warmbad) vermis. Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, sê die 64 jarige vrou het glo ʼn rivier oorgesteek terwyl sy besig was om vuurmaakhout te versamel. Mulaudzi sê die 69-jarige vrou is steeds vermis nadat sy saam met haar man by die Klein Kariba-vakansieoord deur vloedwater meegesleur is. Haar 74-jarige man se liggaam is reeds gevind.
Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, sê intussen daar is geen verdrinkings Woensdag in Gauteng aangemeld nie. Sowat 100 huise is egter deur die vloede geraak in Zandspruit naby Honeydew, wes van Johannesburg. Diepsloot en Ivory Park is ook erg geraak. In Pretoria het tien huise inmekaargestort in Stinkwater. Themba Khumalo, woordvoerder van die departement van waterwese, sê die reënval vir Maart in Gauteng is die meeste in die afgelope 14 jaar. Hy sê die departement monitor intussen damvlakke. Volgens Khumalo is plekke soos Vereeniging in gevaar indien daar te veel sluise by die Vaaldam geopen word. Die dam is tans 105% vol. Hy sê diegene wat naby die rivier bly moet verseker hulle is veilig.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê intussen dat swaar reën nog Woensdagaand en Donderdag oor dele van Noordwes, Gauteng, Limpopo en Mpumalanga kan voorkom.