Vier tieners sterf in Pta-ongeluk

Verskeie ongelukke in en om Pretoria het die lewe van talle mense sedert die begin van die Paasnaweek geëis en ander ernstig beseer gelaat. Onder die oorledenes was vier tieners, wat vroeg Saterdagoggend in ʼn ongeluk in Pretoriusstraat in die Pretoriase middestad betrokke was. Volgens Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, is die vier manspassasiers almal op die toneel dood verklaar, nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en die motor op sy dak beland het.

Die ongeluk het ongeveer 04:30 plaasgevind.

In ʼn ander voorval op die R55 in Raslow, Centurion, is drie mense dood en nog drie ernstig beseer toe twee voertuie teen mekaar vasgery het. Die ongeluk het Vrydag 00:39 gebeur. Tshwane se brandweer het kort ná die ongeluk op die toneel aangekom en gesien twee van die beseerde passasiers is reeds na die Kalafong-hospitaal vervoer.

“Brandbestryders moes reddingskake gebruik om die oorblywende passasier uit een van die motors te bevry,” sê Mabaso.

Nie ver hiervandaan nie, op die N14 buite Centurion, is twee kinders en ʼn vrou oorlede toe hul voertuig Vrydag 18:00 gerol en teen ʼn muur gebots het. Volgens paramedici van Emer-G-Med, die nooddienste wat na die toneel uitgeroep is, is al die insittendes agter in die ladingsgedeelte van die voertuig uitgeslinger en het noodlottige beserings opgedoen. Die twee passasiers voor in die voertuig het matige beserings opgedoen.

Omstreeks 02:00 Saterdag is nog twee mense ernstig beseer toe hul bakkie op die Brits-pad in Pretoria-Noord omgeslaan het. Met nooddienste se aankoms op die toneel was die twee passasiers steeds in die voertuig vasgekeer en brandbestryders moes reddingskake gebruik om hulle te bevry.

“Die oorsaak van hierdie ongelukke word deur wetstoepassers ondersoek. Ons doen weereens ʼn beroep op motoriste om verantwoordelik en veilig te bestuur en te alle tye aan al die reëls van die pad te voldoen,” het Mabaso gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.