Sers. Kealeboga Molala, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn man is Dinsdagoggend dood aangetref in Mmaditlhokwa in Marikana.
“Volgens die beskikbare inligting het ʼn verbyganger Maandag gesien hoe die liggaam van Tshepong Dilwane (36) in ʼn veld in Mmaditlhokwa afgelaai is. Die verbyganger het die motor se nommerplaat waargeneem en die polisie van die voorval in kennis gestel,” het Molala gesê.
“Die polisie is na die toneel en kon nie die aand iets vind nie. Lede van die Rustenburgse honde-eenheid het met die soektog kom help en ʼn liggaam met steekwonde is die Dinsdagoggend gevind. Die motor is nagespoor en gevind by ʼn huis in Letlhabile waar twee verdagtes in hegtenis geneem is.”
Volgens Molala is die ander twee verdagtes Woensdag in hegtenis geneem. “Die motief vir die moord is in die stadium onbekend.” Die vier verdagtes sal binnekort in die Marikana-landdroshof verskyn.