Visserman verdrink aan Weskus

Graham “Grumpy” Duiker op sy skuit by Paternoster. (Foto: Adrian Venter)

Graham “Grumpy” Duiker, ʼn bestaansvisser van Paternoster, het Dinsdag onverklaarbaar in die see in die moeilikheid beland en verdrink.

Die 32-jarige Duiker gaan jare lank al daagliks met sy skuit uit om harders te vang.

André Kleynhans (59), gesinsvriend en bekende sakeman van Paternoster, sê dat Duiker ʼn ervare visserman was wat sy uitgebreide gesin met vis onderhou het. Fotograwe en toeriste het gereeld foto’s van Duiker geneem waar hy met sy waterdigte “oil skins” aan bedrywig was op sy skuit.

Dinsdag laatmiddag het Kleynhans, self ʼn ervare duiker en visser, ʼn telefoonoproep ontvang van ʼn gastehuiseienaar van Johannesburg wie se gaste laat weet het hulle hoor iemand om hulp roep in ʼn skuit, sowat 200 m van die strand af. Volgens Kleynhans was dit Duiker se skuit.

“Duiker se gewoonte was om ‘blinde tyd’, vroegoggend of laatmiddag, ‘wanneer die visse jou nie kan sien nie’, sy nette uit te sit. Dinsdagmiddag het hy sy nette oorkant Mosselbank ingesit en sou hy ʼn ruk wag totdat die nette vol is voordat hy dit optrek,” vertel Kleynhans.

Graham “Grumpy” Duiker op sy skuit by Paternoster. (Foto: Adrian Venter)

Duiker het net roeispane by hom gehad, want “ʼn enjin jaag die visse weg” en hy kon ook nie swem nie, net soos die meeste ander plaaslike vissers.

Kleynhans het hom ná die oproep met ʼn tou, ʼn boei en swemvinne gehaas na waar die skuit gedryf het. “Met die induik het ek egter besef die deining is te sterk vir my om met ʼn drenkeling terug te swem.”

Hy het in die donker omgehardloop na waar die klipbank dieper die see in gaan. Volgens hom het “die stroom Dinsdag andersom as gewoonlik geloop”.

Duiker was nie meer in die skuit teen die tyd wat Kleynhans dit bereik het nie en hy het met die visnet langs geswem om seker te maak dat Duiker nie dalk daarin vassit nie.

Kleynhans bespiegel dat daar dalk ʼn groot klomp water in die skuit beland het met die optrek van die net, of dat ʼn brander hom dalk van die boot afgeslaan het.

Duiker se liggaam het later op die klipbank uitgespoel.

“Ek het heeltyd gehoop en gebid dat ek hom betyds kon kry, maar dit was te laat,” het Kleynhans gesê.

Kleynhans het Duiker as ʼn staatmaker in die gemeenskap beskryf.

Beamptes van die Nasionale Seereddingsinstituut en die Mediese Nooddienste (EMS) het Duiker op die toneel as dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maritha ·

So so jammer om te lees van hierdie besonderse man. Mag jou mense vertroosting kry uit hierdie goeie herinneringe. Dit is ń feit dat hy gemis sal word. Baie baie sterkte vir almal wat hom geken het.

popsa ·

Ai tog. Nou is daar ‘n baie groot leë plek…
Duiker se geliefdes is in ons gedagtes en gebede.

Michael 1 ·

Paternoster is my gunsteling plek in die weskus ,ek sal definitief n wisky drink by oom Johan Carosini se panty bar op Duiker as ek weer daar is …RIP

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.