Vlakfontein-moorde: Verdagtes bly agter tralies

Die huis waar die sewe gesinslede vermoor is. Foto: Itumeleng English/ANA

Twee verdagtes wat verdink word van die moord op sewe lede van die Khoza-familie, sal Kersfees agter tralies deurbring.

Fita Khupe (61) en Vusi Mabaso (27) is in hegtenis geneem toe die polisie in Oktober 2018 op die liggame van vier kinders en drie volwassenes afgekom het by hul huis in Vlakfontein in die suide van Johannesburg.

Polisiesersant Banele Ndlovu het tydens die twee mans se aansoek om borgtog gesê dit sal ʼn gevaar vir die samelewing inhou as die twee op borgtog vrygelaat sou word.

Mabaso, wat ook tereg staan op drie bykomende aanklagte van verkragting, het die hof gevra of hy na Johannesburg-Sentraal-polisiestasie se aanhoudingselle geskuif kan word, aangesien hy glo deur sy medebeskuldigde bedreig word. Mabaso is na Krugersdorp-gevangenis geskuif.

Mabaso voer aan die moorde was ʼn wraakaanval op die familie deur Khupe.

Tebogo Lekotje, die pa van die 13-jarige Karabo wat een van die slagoffers was, het gesê hy is verlig dat die verdagtes agter tralies bly. “Dit is hartseer dat ons ʼn eerste Kersfees sonder Karabo moet deurbring. Ons het beplan om hierdie vakansie Vrystaat toe te gaan, maar nou gaan ek nie meer nie, omdat sy nie meer hier is nie,” het Lekotje gesê.

Die saak is uitgestel tot 24 Januarie.

Lees alle vorige berigte oor die Vlakfontein-moorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.