Vlieënier dood toe heli glo kragdraad tref

Die vlieënier is dood in die voorval. (Foto: BOSBEER.COM/Twitter)

ʼn Vlieënier is dood nadat sy helikopter Dinsdagoggend op ʼn plaas in die Wolseley-omgewing in die Wes-Kaap neergestort het.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die burgerlugvaartowerheid (BLO), sê die helikopter, ʼn Jet Ranger II 206-B, het omstreeks 08:30 neergestort.

Die vlieënier, die enigste persoon aan boord, was besig met lugbespuiting in die gebied.

Ledwaba sê luidens voorlopige berigte het die helikopter ʼn kragdraad getref.

“Die bewysinsamelingsfase, wat reeds begin het, sal die grootte en omvang van die ondersoek, asook die verwagte tydsduur vir die afhandeling van die finale ongelukondersoekverslag bepaal.”

Ledwaba het gesê dit is belangrik om te besef dat ondersoeke wissel in ingewikkeldheid en dat dit soms geruime tyd duur om af te handel.

ʼn Voorlopige verslag na die voorval sal binne 30 dae bekend gestel word.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê misdaadtoneelkenners fynkam die gebied vir leidrade.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rosie ·

Beste is om die maar te spuit met ‘n trekker wat tussen die bome deur ry of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.