Vloedwater rig skade aan op pad na Upington

Die Vanderkloof Dam het verlede week oorgeloop en het boere laer af in die Oranjerivier baie benoud gehad Foto: Werner Smook

ʼn Benoude atmosfeer het verlede week onder die inwoners langs die Oranjerivier, tussen die  Gariepdam en Douglas, geheers.

Watervlakke het gevaarlik hoog gestyg ná swaar reën in dié rivier se opvangsgebied in Lesotho geval het. Boere langs die rivier kon egter betyds hulle pompe opskuif en minimale skade is aangerig. Gelukkig sak die watervlakke nou stelselmatig.

Die riviergemeenskappe anderkant Douglas, waar die Vaalrivier by die Oranjerivier aansluit, het egter rede tot kommer. Die Vaaldam word nou vinnig vol en staan reeds op 85,1%. Swaar reën al langs die Vaalrivier het die watervlakke van dié rivier ook aansienlik laat styg en baie vloedskade is reeds aangerig.

ʼn Wolkbreuk in die Vaalrivier se opvangs, in die gebied rondom Taung, het reeds baie vloede veroorsaak. Die N18 tussen Vryburg en Taung is gesluit weens groot gedeeltes wat onder water is en skade is aangerig aan laagwaterbrûe, waarvan die skouers begin wegspoel. ʼn Duiksloot onder die N14, 42 km buite Kuruman op pad na Vryburg, het inmekaargesak. Motoriste word herlei na sekondêre roetes wat meestal grondpaaie is. Dié paaie kan nie die swaar verkeer en vragmotors hanteer nie. Motoriste word aangeraai om hierdie gedeelte van Noordwes en die Noord-Kaap te vermy.

Bloemhofdam skep ook ʼn risiko omdat die dam nie baie meetplate het nie en onaangename verrassings kan bied as die dam nie haarfyn gemonitor word nie.

Nicol Jansen, president van Agri-Noord-Kaap, is veral bekommerd oor die inwoners agter die vloedwalle op pad na Upington, wat die staat sedert 2011 steeds nie herstel het nie.

Hy doen ʼn beroep op boere om seker te maak dat hulle twee keer per dag ʼn bywerking oor die Vaal- en Oranjerivier se vlakke vanaf hulle plaaslike waterrade kry. Hulle moet ook help om vlakke te monitor en aan te meld, veral waar riete en opdrifsels water kan laat opdam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cecilia ·

Wat my die meeste bekommer, as ons mense op aarde nie water het nie dan bid ons vir die Lieve Vader om ons te Help. Maar die oomblik as die Liewe Vader vir ons water stuur dan moun almal. Kan ons nie maar net vereens DANKBAAR wees vir wat ons gevra het nie, aardse goed kan vervang word.!!!!!!!!

Mallie ·

Die paaie verspoel, maar die munisipaliteite maak nie die paaie reg nie. Ons doen bundu bashing om werk en huis toe te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.