Voedselsekerheid in gedrang oor entstoftekorte

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) het aangedui dat die voortgesette tekort aan entstowwe in die landbousektor tot ʼn ramptoestand in die rooivleisbedryf gelei het.

Volgens James Faber, voorsitter van die RPO, ly kommersiële en opkomende produsente ernstige verliese weens uitbrekings van bloutong wat tot 50% vrektes onder kuddes veroorsaak.

Die DA sê hy het ook talle klagtes van perdeboere ontvang oor perde wat weens Afrika-perdesiekte vrek. Perde en donkies speel ʼn ondersteunende rol in die produksieproses van rooivleis.

Entstowwe teen dié siektes kan slegs deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) – ʼn staatsbeheerde instelling – vervaardig word en by OBP is daar nou al maande lank ʼn tekort aan sekere entstowwe. Dit word onder meer toegeskryf aan OBP se onvermoë om entstowwe te vervaardig weens toerusting wat nie in stand gehou word nie en dus breek. Die stukkende toerusting word ook nie herstel nie.

Faber sê die probleem kon verhoed gewees het mits die regering betyds ingegryp het.

“Ons voel die owerheid het die bedryf in die steek gelaat,” sê hy.

Die bedryf probeer nou sónder die entstof klaarkom en Faber sê ten spyte van RPO se advies daarteen wend sommige produsente hulle nou tot die gebruik van onwettige, ongeregistreerde entstowwe, “wat groot risiko’s inhou”.

Dit nasionale dieregesondheidsforum – waarvan die RPO ʼn lid is – het einde Maart ʼn vergadering met Thoko Didiza, minister van landbou, gehad waartydens ʼn subkomitee aangestel is om met oplossings vorendag te help kom.

Die sperdatum vir die voorstelle was 28 April, maar die komitee het nie op dié dag vergader nie, ten spyte van die forum se navrae daaroor.

“Die traagheid om die nodige voorgestelde regstellende stappe te doen ondermyn die doelstellings van die landboumeesterplan (AAMP) en het ernstige dierewelsyn-implikasies.

“Dit hou ook ʼn gevaar vir mense se gesondheid in,” sê Faber.

Die forum het namens die vee- en dierebedrywe die behoeftestelling vir entstowwe gedoen en oplossings voorgestel wat insluit:

  • Entstowwe moet deur meer as een diensverskaffer geproduseer word om risiko’s te verminder en mededingendheid te verseker;
  • Registrasie-aansoeke moet vinniger verwerk word;
  • Sekere entstowwe kan met behulp van die privaatsektor geproduseer word, of namens OBP met ʼn toepaslike lisensie.

Die RPO sê dringende oplossings is nou nodig en moet so gou moontlik ingestel word.

“Hoewel dit reeds te laat is, moet alles moontlik gedoen word om nasionale pandemies te verhoed. Dit is in belang van voedselsekuriteit, armoedeverligting, die inwerkingstelling van die AAMP, menslike gesondheid, uitvoerstrategieë en dierewelsyn dat meer drastiese stappe gedoen word om te verseker dat die entstofkwessie spoedig opgelos word.”

Die DA het intussen ʼn petisie begin waarin die party die parlement vra om OBP en die minister te dwing om entstowwe vir bloutong en Afrika-perdesiekte aan die privaatsektor beskikbaar te stel. Die petisie het reeds meer as 10 000 handtekeninge.

“Die regering is deur middel van wetgewing verplig om al twee die aanmeldbare en beheerde siektes te bestuur, maar het klaaglik hierin misluk. OBP was vantevore ʼn internasionaal erkende instelling wat betref die produskie, navorsing en ontwikkeling van diere-entstowwe. Die ANC-regering het die organisasie egter in die grond in bestuur,” sê Noko Masipa, die DA se woordvoerder oor landbou.

“Slegs OBP kan entstof teen bloutong en Afrika-perdesiekte vervaardig, maar omdat die instelling versuim om sy toerusting in stand te hou en te herstel, is hierdie kapasiteit verwoes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Bulkalf ·

Vleis klaar so duur, nou weer duurder.
Gaan maar weer “Toppers is tops”soek.

Anel ·

Dis mos wat die regering wil hê. Mos gesê dat beesmis skadelik is vir die osoonlaag. Wil ontslae raak van vleis en ons dwing om sintetise gemors te eet. Boere moet net volhou om die regering aan te vat. Hulle is so naby om oor die afgrind te stort, dit is net nie waar nie. So, ek glo en vertrou dat die boere die entstof sal kry. Want is seker kulture is beeste rykdom en alhoewel hulle nie altyd hulle diere ent nie, sal hulle nie maklik van hul beeste afstand doen nie.

Di ·

Lyk my die korrupte regering het onbevoegde mense ORALS in ALLE plekke wat nie hulle werk doen en die ondergang van ALLES veroorsaak.

Rudolph ·

Ons hoef nie diereliggaamsdele te eet of hulle uitskeidings te drink om gesond te leef nie

Piet parys ·

As entstowwe vir vee nie beskikbaar is nie hoe lank dink jy gaan jou groente hou sonder middels om plae in toom te hou . Alles vou stelselmatig

Miskruier ·

Korrek, indringerplante word nie meer deur staat verwyder.

Piet ·

Nou maar eet dan maar jou kool en wortels. Jy hoor hulle seker nie skree nie.
Ek sal by my chops hou.

Piet parys ·

Dit gaan al jare so aan en elke keer maak hulle wat onbevoeg is beloftes dat dit sal reg kom .
Anc het nou die land opgemors deur onbevoegdheid. Hongersnood op pad met geen veemiddels vrek diere van al die siektes en wie sal boer met vee as daar nie entstowwe is nie .

Erika ·

WANT DIE TOERUSTING wat ONDERSTE POORT BIOLOGIESE PRODUKTE gebruik Krag 0m die Entstowwe te vervaardig Dit is KRAG wat van Eskom afkom. (waarvan Die regering aandeel het) ………Hierdie Mense glo ook nie in instandhouding nie. ten spyte van die feit dat dit n veiligheids risiko inhou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.